Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Charles Carelse (61), 'n boorling van George en geliefde gr.7 wetenskap en aardrykskunde onderwyser van Heidedal Primêr tree na 38 jaar van vindingryke skoolonderrig af.
Carelse het 'n glinster in sy oë wanneer hy oor onderwys gesels, en sê dat hy trots is op die leerders en protégés, wat onder sy vlerk floreer het.
Lihle Moje, 2015-hoofdogter is onder sy toesig gemotiveer om haar volle potensiaal te bereik.
Vandag is Moje by die gesogte Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls (OWLAG) in Meyerton, Gauteng. Moje het voor haar vertrek na die skool gesê: "Sonder mnr. Carelse se motivering sou ek dalk nooit hierdie geleentheid gekry het nie."
Hy bly graag in kontak met sy leerders, want dit skep 'n gevoel van trots om te sien dat hulle hul drome bereik.
"Die hoogtepunt in my loopbaan is om te sien hoe my oudleerders in die lewe presteer.
"Duwayne Otto, 'n boorling van Borcherds het drie jaar gelede as mediese dokter begin praktiseer. Dit bewys net weer dat omstandighede nie jou toekoms bepaal nie."
"Nog 'n oudleerder Zolani Mbanga, is die ideale voorbeeld van 'n dromer. Mbanga visualiseer sy drome en bereik dit. In gr.4 het hy gesê hy wil hoofseun word, en in 2009 is hy as hoofseun aangewys.
"Hy het ook gesê hy wil 'n vol beurs ontvang en vandag word sy studies deur die bekende ouditeurs maatskappy. Deloitte, gefinansier," sê Carelse.
Kyk 'n video hieronder:
Carelse is 'n nederige mens wat min oor homself praat, maar hy beskryf homself as 'n dinamiese mens wat ander mense in ag neem, "Ek is 'n liefdevolle mens wat streef na goeie menseverhoudings."
Carelse het tot die ouderdom van 13 jaar saam met sy enkelma en sussie in Caledonstraat in die hart van George gewoon.
Die gesin moes wees die Groepsgebiedewet na Pacaltsdorp verhuis.
Heidedal Primêr groet mnr. Carelse.
Hy het in 1973 by Hoërskool George gematrikuleer en in 1977 sy onderwysstudies aan Dower-kollege in Port Elizabeth voltooi.
Sy bereidwilligheid en passie vir opvoeding het die weg gebaan vir sy onderwysloopbaan wat in 1979 by Heidedal Primêr begin het en radikaal gegroei het.
Carelse sê dit was altyd goed om, "die sienswyse van die leerders teenoor homself en die omgewing te verander".
Carelse was vanjaar 'n finalis vir die WKOD- toekenning vir leeftydprestasie.
Ander prestasies wat onder sy leiding bereik is sluit in, vier leerders wat na die GLOBE-seminaar (Global learning and observation to benefit the environment) gegaan het en Heidedal Primêr op internasionale vlak verteenwoordig het, en die Baswa le Meetse-kultuurprojek wat ook onder sy leiding bestuur word.
Die Baswa le Meetse-projek sluit dans, musiek, drama en kulturele dans in.
Die projek fokus op die opvoeding en bewaring van water.
Na bykans vier dekades van onderwys sal Carelse terugkeer na Caledonstraat waar hy sy passie vir wetenskap gaan voortsit en gratis slypskole sal aanbied by die wetenskapsentrum in die botaniese tuin.
Die onderwys gaan Charles Carelse mis.
ARTIKEL: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD-JOERNALIS
VIDEO & FOTO: MYRON RABINOWITZ, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'