GEORGE NUUS - Chris Chameleon en sy pragtige verloofde, Daniella Deysel, se musikale produksie Kat & Wolf is verlede Vrydagaand vuurwarm in George ontvang.
In 'n volgepakte Oakhurst Insurance George Arts Theatre het die paartjie, wat op 7 Mei verloof geraak het, na elke nommer luide applous ontvang. Chameleon het in 'n ontspanne trant vertel van sy kleurryke ondervindings gedurende sy 28 jaar lange musiekloopbaan.
Na sy suksesse tussen 1990 en 1995 met sy eerste orkes, die eklektiese Blue Chameleon, het Chris in 1997 die orkes Boo! gestig, 'n musikale drietal wat gou 'n wêreldwye kultusaanhang verwerf het. In die eerste sewe jaar van hulle bestaan het Boo! meer as 800 vertonings in 17 lande gehou, insluitend Hongarye, Kroasië en 14 van die state in die VSA. Boo! het by talle Europese en Amerikaanse musiekfeeste opgetree en ook 'n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (Sama) vir Beste Popalbum in 2002 ontvang.
Sy bestuurder, Denise Barnes, het Vrydagaand verklap dat Chris weer vir Boo! in die lewe geroep het en in November gaan hy en Riaan van Rensburg op toer om te bou op Boo! se roem. Hy sal ook Kat & Wolf op toer neem, so Daniella, vir wie Chris al sewe jaar ken, gaan saam.
Digterlik
Chris se kitaarspel en sang is perfek aangevul deur die veelsydige Daniella wat die baskitaar skitterend speel. Hul seepgladde optrede is deels te danke aan hulle toer deur Nederland in 2015 met die produksie van sy album, Posduif.
In die tyd het sy nog bekendgestaan as 'n digter. Posduif is ook genomineer vir 'n 2015 Sama toekenning in die kategorie "Beste Afrikaanse Kontemporêre Album".
Chris het Vrydagaand ietwat ondeund vertel hoe hy en sy geliefde in een van sy pondokkies gelê en al geselsend op Elektrisiteit se lirieke afgekom het. Die liedjie is asemloos aangehoor.
Georgiete staan nader om kennis te maak met Chris Chameleon en sy Namibiese verloofde, Daniella Deysel.
As liedjieskrywer word Chris allerweë beskou as vernuwend, produktief en eindeloos kreatief. Hier en veral in Europa, word hy as 'n musikale fenomeen beskou. Met 'n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en 'n reputasie dat hy gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies betower, het sy uitsonderlike talent hom duisende aanhangers, uitstekende resensies en talle toekennings besorg.
Chris Chameleon beoog om in Desember 'n kustoer te onderneem en sal sy Tuinroete aanhangers dan weer kans kry om dié eiesoortige verkleurmannetjie se talent te geniet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'