GEORGE NUUS - Die voormalige munisipale bestuurder van George, Cecil Africa sê sy skorsing op 4 Maart 2010 was polities van aard en hy is deur verskeie burgemeesters geteiken.
Africa se kontrak by die munisipaliteit het einde April 2011 outomaties verval omdat hy hom tydens die plaaslike verkiesing by die GOBF as wykskandidaat skaar. Sy kontrak sou einde Julie 2011 verstryk het.
Hy is verlede jaar met volle salaris geskors hangende die uitslag van sy disiplinêre verhoor.
Africa sê vir alle praktiese doeleindes het sy disiplinêre verhoor steeds nie begin nie. "Nog nooit moes ek pleit op ‘n klag nie. Dit is nou reeds meer as ‘n jaar sedert ek geskors is. Al wat gebeur het is dat die bedingingsraad beslis het dat die raad die regte skorsingsprosedures gevolg het. Om die saak hooggeregshof toe te neem het ek R300 000 nodig om neer te sit." Africa is saam met vyf ander amptenare geskors op klagte wat verband hou met die veelbesproke munisipale rekenaarsprojek (DISC) en die onenigheid wat geheers het in die verkeersdepartement. Sy broer, Kenny, was hoof van dié afdeling.
Africa sê nie in een van die forensiese ondersoekverslae is hy betrek by enige ongerymdhede nie. Wat die DISC-ondersoek betref sê hy: "Die verslag impliseer my nie en ek was ook nie die rekenpligtige beampte vandat die projek begin het nie." Oor die Nexus-verslag wat handel oor die verkeerdebakel sê hy die volgende: "My grootste sonde was dat ek die broer is van die voormalige verkeershoof, Kenny Africa. Nêrens in die verslag word ek geimpliseer nie. Daar word wel genoem dat sekere artikels in die finansieswet in berekening gebring moet word sover dit die rekenpligtige beampte aangaan. Daar was niks in die aanbevelings wat van 'n finansiële aard was nie. Ek is geskors omdat ek die munisipale bestuurder was."
Africa voel hy is geteiken deur spesifieke raadslede van die DA en OD sowel as die ANC.
Hy is geskors pas nadat die OD saam met die ANC in die George-raad begin werk het. Die DA het teen die skorsings gestem en dit bestempel as ‘n heksejag.
"Die DA het gedreig met regsaksie om die skorsings onwettig te laat verklaar. Sedert hulle egter weer (met die hulp van die OD) aan bewind gekom het, het hulle nie ‘n vinger verroer om iets aan die saak te doen nie." Die ondersoeke, skor-sings en die waarnemende personeel het die George belastingbetaler reeds miljoene uit die sak gejaag. Die hoofsweep van die ANC in die George-munisipaliteit, Charlie Williams sê "the ANC has nothing against Cecil Africa" en dat hy nie in ‘n debat betrokke wil raak wat vir politieke redes uitgebuit kan word nie.
DA-raadslid Flip de Swardt, OD-raadslid Mercia Draghoender en ANC-lid Bazil Petrus - aldrie voormalige burgemeesters - word deur Africa van politieke inmengery in die George administrasie beskuldig. De Swardt het Africa se bewerings ten sterkste ontken en gevra hoekom hy nie as MM klagtes teen hom by die raad gelê het nie. "Dis vreemd dat hy nou eers daarvan melding maak. Dit is bloot politieke opportunisme omdat hy nou vir ‘n party as kandidaat staan. Ek weier om vir hom publi-siteit te gee deur ‘n moddergooiery in die pers."
Ook raadslid Draghoender het Africa se aantygings van inmenging verwerp. "Wat is inmenging? Die munisipale bestuurder rapporteer aan die burgemeester en die burgemeester gee opdragte aan die MM namens die raad."
Bazil Petrus het by navraag gesê Africa het as MM die volmag gehad om op te tree as daar enige inmenging was. "Ek het nooit ‘n vermaning of skrywe oor enige kwessie waarby ek kwansuis sou inmeng van hom ontvang nie. Wat hy van my sê, dra geen gewig nie. Sy verhouding met De Swardt en Draghoender is egter sy eie saak."
Africa het gesê hy het nou vir die eerste keer die vrymoedigheid om te praat omdat hy nie meer in diens van die munisipaliteit is nie.
ARTIKEL EN FOTO: ILSE SCHOONRAAD