Update
GEORGE NUUS - Daar blyk 'n mate van afsluiting te wees vir Pieter en Susan van der Merwe wat vier jaar gelede hul 21-jarige dogter, Caroline, in 'n tragiese motorongeluk verloor het.
Caroline was Vrydagaand, 2 Junie 2017 omstreeks 23:00 vanaf Mujo's Bar and Restaurant waar sy gewerk het, onderweg huis toe saam met drie vriende.
Sy het in Knysnaweg ingedraai in die rigting na die dorp toe twee voertuie, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, haar motor getref het. Caroline het op die toneel gesterf. Na wat beweer word was die twee voertuie wat in Caroline se motor vasgery het, besig om resies te jaag.
Reddingswerkers moes van meganiese kake gebruik maak om haar liggaam uit die verfrommelde wrak te bevry na haar passasiers bevry is.
'n Ondersoek is van stapel gestuur en nou, vier jaar ná Caroline se dood, is die ondersoek voltooi en die dossier is ingedien by die senior staatsaanklaer om te besluit of daar vervolg sal word al dan nie.
Dit is vandeesweek deur AfriForum-advokaat, Phyllis Vorster, bevestig ná daar vir etlike maande op een uitstaande verslag gewag is.
"Ons is ingelig dat die uitstaande verslag uit Plattekloof (Kaapstad) ontvang is en dat die dossier nou by die senior aanklaer is vir beslissing," het Vorster by navraag gesê.
In Junie vanjaar het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie gesê dat daar slegs 'n enkele forensiese verslag uitstaande was en dat die ondersoek na Caroline se dood feitlik voltooi en gereed was vir beslissing deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
In Augustus 2018 is daar ook te kenne gegee dat die ondersoek voltooi was en na die NVG gestuur is. "Die dossier was inderdaad aan die NVG voorgelê wat toe versoek het dat 'n meganiese forensiese verslag deur die polisie voorgelê moet word," het Pojie gesê.
Dit was juis hierdie verslag waarvoor hulle gewag het. Pojie het Woensdagoggend ook bevestig dat die dossier tans by die senior staatsaanklaer is vir 'n beslissing.
Die lamppaal by Mujo's se afdraai waar die ongeluk plaasgevind het. Haar ma, Susan, sit gereeld nuwe blomme daar neer. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'