Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Pleidooi vir die samewerking van die publiek in die stryd teen misdaad is op Saterdag 17 September by 'n bewusmakingsprogram van die Conville-buurtwag gelewer.
Die buurtwag het 'n program aangebied vir inwoners op die oop ruimte in Bont-rokkiestraat in samewerking met die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), SAPD, George-raad en munisipale wetstoepassing.
Dit was in 'n poging om die publiek in te lig oor bestaande misdaadbekampingsaksies waarby die buurtwag en polisie betrokke is en die uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Die buurtwagvoorsitter, Rudy Lewis, het gesê hulle het groot hindernisse om te oorkom.
"Samewerking van die publiek kan egter 'n groot verskil maak. As ons kyk hoeveel mense al gearresteer is as gevolg van ons optrede, voel ons as buurtwag dat ons 'n groot impak maak. Ek glo ons sigbaarheid in die woonbuurte laat booswigte twee keer dink voordat hulle oortree. Maar ons het die samewerking van die publiek nodig om 'n veiliger gemeenskap te skep. Hulle moet ons vennoot raak."
Hy het gesê daar is baie keer 'n onwilligheid onder die publiek om betrokke te raak in 'n ondersoek waar hulle waardevolle getuienis kan lewer of inligting kan verskaf. Dit veroorsaak dat sake uit die hof gegooi word omdat die polisie nie genoeg bewyse of getuienis kan versamel nie.
"Inwoners maak of hulle nie bewus is van wat aangaan nie en wil dan kla oor die hoë misdaadsyfer."
VIDEO: Conville-buurtwag hou bewusmakingsprogram
Charlotte Clarke, portefeuljeraadslid vir gemeenskapsveiligheid, het gesê misdaad begin in die huis. "Ouers wat hulle kinders beskerm terwyl hulle weet dat hulle misdaad pleeg, dra by tot die eskalering van misdaad.
"Dit is sulke kinders wat kan terugkom en selfs hul ouers skade aandoen. Dit begin met opvoeding by die huis. Ouers moet verantwoordelikheid neem vir hul kinders se opvoeding en toesien dat hulle op 'n sekere tyd by die huis is."
Lewis het al die rolspelers bedank vir hulle insette. "Dankie ook aan adjudant-offisiere Nicolaas Julies van Sektor 2 en Charlton Manchest van Sektor 1, asook kapt. Wendy Muller, hoof van Vispol by Conville-polisie vir hulle samewerking."
Rolspelers wat Saterdagoggend in Conville deelgevorm het van die bewusmakingsprogram oor misdaadvoorkoming. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'