GEORGE NUUS - Met damvlakke wat steeds daal en ter ondersteuning van die George-munisipaliteit se ernstige beroep op inwoners om water te spaar, is GO GEORGE ook raadstafel toe om te besluit hoe die busdiens sy waterverbruik kan verminder.
By die busdepot het George Link verskeie maatreëls in plek gestel om water te spaar.
Nadat die eerste vlak waterbeperkings ingestel is, het die George Link-direksie in samewerking met die bestuur van die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN) besluit om die busse slegs elke tweede dag te was pleks van daagliks.
Met die verdere verskerping van die waterbeperkings, word die busse nou net een keer per week gewas.
"Almal weet hoe trots ons op die blinkskoon blou en groen vloot is, maar met 91 busse wat gewas moet word, weet ons dat die afskaling van die wasskedule 'n groot bydrae kan lewer en 'n verskil sal maak," sê James Rob, GIPTN-bestuurder.
"Ons is regtig trots op die pogings wat George Link aanwend. Hulle het ook 10 watertenks van 10 000 liter elk geïnstalleer. Water vir die depot se toiletgeriewe kom nou slegs van die opgaartenks af. As jy in gedagte hou dat George Link 272 werknemers het - hoewel almal nie terselfdertyd op die perseel nie - is hierdie 'n groot bydrae om munisipale water te spaar."
Die nuutste damvlak-lesing is 42.94%. 49 mm reënval is oor die afgelope week gemeet.
Lees 'n verwante artikel: Water restrictions still in place
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'