GEORGE NUUS - Die begrafnis van een van die slagoffers van die tragiese helikopterongeluk verlede week by die Vaaldam, Dané Esterhuysen van Wilderness, vind Dinsdagoggend, 25 Mei, in Johannesburg plaas.
Dané was Vrydag 14 Mei saam met haar broer, Jacobus (Essie) Esterhuysen, wat die vlieënier was van die Robertson-44, op pad om vir hom en sy vrou, Mariana, in Bossonia in Johannesburg te gaan kuier toe die ongeluk gebeur het.
Esterhuysen se twee honde, Pablo en Abigail het ook gesterf toe die helikopter neergestort het. Hy is beskryf as 'n baie ervare vlieënier.
Dané het die gastehuis, Wilderness Beach Lodge, wat aan haar broer behoort het, namens hom bedryf. Haar dogter, Géla le Roux het Dinsdag aan George Herald gesê die familie sukkel nog om haar dood te verwerk.
"My ma was my beste vriendin, 'n sterk vrou, rots en steunpilaar vir haar kinders en kleinkinders. Baie familie vas en het die lekkerste lag gehad. Mense wat by die gastehuis gebly het, het altyd getuig van haar gasvryheid en vriendelikheid. Sy laat 'n groot leemte in ons harte," het Le Roux vertel.
Sedert dit bekend geword het dat die broer en suster dood is, het huldeblyke ingestroom. Op George Herald se Facebook-blad het 'n vrou geskryf dat Dané 'n vriendelike gasvrou tydens hul wittebrood in 2014 was.
Esterhuysen is deur iemand anders beskryf as seker die mees geliefde, mensliewende en onselfsugtigste mens denkbaar. "Een uit 'n miljoen."
Burgerlike Lugvaartowerheid
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid, het gesê die ongelukke- en voorvalle ondersoekafdeling is ingelig oor die ongeluk.
Dit het plaasgevind by Sunset Cove. Die proses om meer inligting te bekom wat sal help om die oorsaak van die ongeluk te bepaal, het reeds begin. Gewoonlik word 'n voorlopige verslag binne 30 dae na 'n ongeluk bekendgemaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'