Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wil jy deel wees van die vreugde en hoop wat by 'n ouma of oupa gekweek kan word? Inwoners en belangstellendes van die George-gemeenskap kry die geleentheid om vanjaar 'n spesiale Kersfees vir 'n ouma en 'n oupa te verseker.
Dit is alles danksy die Ouma & Oupa Kersprojek NPC wat vir die eerste keer in George uitgevoer word. So kry mense die geleentheid om waardering te toon vir die belangrike rol wat senior burgers in die samelewing speel.
Die Ouma en Oupa Kersprojek NPC is in 2018 in Vanderbijlpark gestig en het landwyd uitgebrei. Die projek het begin as 'n eenvoudige idee om oumas en oupas gedurende die Kerstyd met 'n spesiale geskenkie te bederf.
Die belangstelling van skenkers was so groot dat die projek van daardie jaar af 'n jaarlikse instelling op skenkers se kalenders geword het. Wat aanvanklik net 'n idee was, het intussen van krag tot krag gegaan en staan vandag bekend as 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie.
In 2018 is 1 700 geskenke in vier dorpe ingesamel. Van die begin af het dit gesorg vir groot glimlagte en vreugde tussen die oumas en oupas se geselligheid. Die projek word nou reeds in 20 dorpe regoor Suid-Afrika deur koördineerders gelei.
Michelle van Wyk, oorspronklik vanaf Ermelo in Mpumalanga, is hierdie jaar George se koördineerder.
Haar doelwit is om 'n plaaslike tehuis in George se oumas en oupas met 'n spesiale geskenkboks te bederf. In kort werk dit as volg: Daar word na 'n tehuis vir bejaardes gegaan en elke ouma en oupa word genooi om 'n wenslysie vir Kersfees in te handig. Dit kan enige item wees van seep, lekkers of selfs pantoffels. D
ie waarde van 'n geskenkboks beloop ongeveer R200 per boks. Die wenslysie word dan elektronies vanaf die koördineerder na die skenker toe gestuur. 'n Skenker kan enige ander bederf-items by die bestaande versoeke voeg.
As 'n wegspring in George, is Huis JJ Watson gekies vir die eerste deel van die projek.
Die gedagte is om aan 63 oumas en oupas 'n geskenkboks te gee. Die geskenkpakkies sal dan tydens 'n spesiale geleentheid (vroeg in Desember) aan die hulle oorhandig word. In die toekoms sal die organi-seerders graag na ander tehuise in George wil uitbrei.
Kontak Michelle by 079 843 5771 of stuur 'n e-pos na mswanepoelcat@gmail.com
VIDEO - Die Ouma & Oupa Kersprojek NPC is nou ook in George. Michelle van Wyk vertel meer:
Video: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’