GEORGE NUUS - ‘n Loopbaan van 37 jaar in die polisiediens het Vrydag 28 Junie tot ‘n einde gekom vir brig. Nolan Michaels, stasiebevelvoerder van die George-polisiestasie. Oor sy vier jaar in George voel hy besonder dankbaar vir die uitstekende samewerking wat bestaan tussen die polisie en rolspelers inkluis ander nooddienste, gemeenskapspolisiëring, buurtwagte en die besigheidsgemeenskap.
“Wanneer ek terugdink aan my loopbaan sal ek altyd wonder of daar iets is wat ek nóg beter kon doen. Ek beskou myself as ‘n patriot met ‘n diep liefde vir die land en sy mense. My benadering was nog altyd om daai gevoel van patriotisme uit te leef en dit is iets wat ek by die polisie kon vermag,” sê Michaels.
Een van sy trotse oomblikke was toe George in 2023 die toekenning vir beste polisiestasie in die Wes-Kaap se brigadierkategorie gewen het en dieselfde jaar is die speurders van George as die speurderspan van die jaar in die Wes-Kaap aangewys.
“Toekennings soos hierdie kan net geskiet wanneer almal in dieselfde rigting trek en dit sluit in al die rolspelers op wie die polisie staatmaak,” sê Michaels. Vir hom is daar nie ‘n beter voorbeeld as die gebou-ineenstorting in Victoriastraat nie. “Die samewerking tussen nooddienste, die gemeenskap en polisie was enorm! Ons is geseënd met ‘n gemeenskap wat kan en wil saamstaan en nog meer so in tye van nood,” sê Michaels met trots.
Sonder familie kan geen man vêr kom nie, en Michaels is besonder dankbaar vir syne.
“Hoe meer stresvol ‘n werk is, hoe belangriker is dit om ‘n veilige hawe te hê waarheen ‘n mens kan terugkeer. Hulle sê in die polisie is daar altyd opofferings, maar wat mense nie besef nie is dat die rekening altyd na jou familie gestuur word, nie na jouself nie.
Ek kan my vrou Rachel, seun Matthew en dogter Ulayley nie genoeg dank vir hul ondersteuning deur die jare nie. Ek is geseënd met ‘n familie wat my ondersteun het en verstaan watter opofferings is nodig om die hulpkreet van die gemeenskap te beantwoord,” sê Michael.
Medaljes wat aan Michaels toegeken is deur sy diensjare is ‘n 10-jaar, 20-jaar en 30-jaar lojaliteitsmedaljes.
‘n Loopbaan van amper vier dekades
Michaels se hart is diep gewortel in die Suid-Kaap en hy het sy jeugjare in Knysna deurgebring. Maar voor hy die Tuinroete kon veilig hou het sy polisieloopbaan hom eers na die Noord-Kaap en toe Kaapstad self geneem.
Vanaf Knysna het hy na die voorstad Atlantis verhuis waar hy skool klaargemaak het. Alhoewel hy ‘n ander werk gehad het, het die polisie in daai tydstip finansieel beter geleenthede gebied. “Dit was nooit my droom om vir die polisie te werk nie en ek wou eerder ‘n magistraat word. Maar dit voel of die polisie my gekies het eerder as andersom,” sê Michaels.
Na hy sy ses maande opleiding by die Bishop Lavis-polisieakademie voltooi het, is hy in Desember 1987 oorgeplaas na die diamant en goud spesialiseenheid in Kimberley. Na ‘n jaar en ‘n half het hy gevoel die werk wat hy in Kimberly doen, voldoen nie aan hoe hy die polisie wou ervaar nie. Hy wou meer doen en word in Maart 1989 oorgeplaas na die die sigbare polisiëringseenheid in Upington.
Na Upington het Michaels die Noord-Kaap verruil vir die Wes-Kaap en is oorgeplaas na Kraaifontein as skofbevelvoerder in November 1990. Gedurende sy drie en ‘n half jaar in Kraaifontein het hy ook sy offisierskursus voltooi wat hom vir sy eerste stasiebevelvoerderpos voorberei het.
Op die jong ouderdom van 27 het sy seniors hom aanbeveel vir die stasiebevelvoerder pos in Kleinvlei waar hy in Mei 1994 begin het.
“Weereens voel dit of die rol my gekies het en nie ek die rol nie. Net omdat dit ‘n klein stasie is beteken nie daar is minder probleme nie. Ek was in beheer van mense wat ouer as ek was en die misdaad in die omgewing was besonder uitdagend.
Dit is hier waar ek die eerste keer geleer het hoe waardevol samewerking met die gemeenskap is. Hoe belangrik dit is om hulle aan jou kant te kry,” sê Michaels.
Na drie en 'n half jaar in Kleinvlei is Michaels in Desember 1997 oorgeplaas na Durbanville as stasiebevelvoerder waar hy nog ‘n belangrike les geleer het: “Dis maklik om van ‘n spogperd ‘n donkie te maak, maar nie andersom nie. Moenie ‘n polisiestasie wat goed werk vat en dit opneuk nie. Dit is ‘n les wat ek by al my poste vorentoe geïmplementeer het,” sê Michaels.
Hierna is hy as stasiebevelvoerder oorgeplaas na Brackenfell in Julie 2000 en kort daarna na Macassar in Mei 2001.
Teen die tyd het Michaels se hart gebrand om terug te keer na die Tuinroete en hy doen aansoek en kry die pos as die Suid-Kaap se areahoof: misdaadvoorkoming in Oktober 2001. Hy was aanvanklik in Oudtshoorn gebaseer, maar is later na George oorgeplaas.
“Ek het besluit om terug te kom na die Suid-Kaap want ek het gevoel ek kon ‘n noemenswaardige verskil hier maak. Ek wou terugkom na my kinderhuis se gebied en om hier ‘n impak te maak,” sê Michaels.
Gevolge ‘n nasionale herstrukturering van die polisie in 2006 is hy as stasiebevelvoerder van Kwanonqaba in Mosselbaai aangewys. Hy is in Mei 2009 as stasiebevelvoerder van Knysna aangestel gevolg deur Plettenbergbaai in April 2013.
Sy laaste pos was toe as stasiebevelvoerder van George-polisiestasie waar hy in April 2020 begin het met sy laaste dag op 28 Junie 2024.
“My ideaal was altyd om ‘n stasie in ‘n beter plek te laat as toe ek dit gevind het. Elke polisiestasie is ‘n refleksie van hoe goed Suid-Afrika as land werk, daarom moet ons hard werk om dit te maak werk. Wanneer ek terugdink voel ek baie gelukkig en uiters bevoorreg om te kon dien in die plekke waar ek aangestel was,” sê Michaels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’