GEORGE NUUS - Een van die voorste figure in Suid-Afrika se bosboukringe, dr. Jaap Steenkamp van George, is verlede Donderdag, 22 Julie, oorlede. Hy het 'n onderliggende longsiekte gehad en het onlangs Covid-19 gehad.
Die 62-jarige Steenkamp het diep spore in bosboukringe getrap. Hy was die laaste paar jaar onder meer bekend vir die werk wat hy gedoen het in die bestryding van die stompkopkewer.
Die kewer het reeds groot skade aan bome in George en omliggende gebiede gedoen.
Vroeër vanjaar het Steenkamp aangedui dat hy na die moontlikheid kyk om 'n Inwoners- en Belastingbetalersvereniging te stig. Dit was omdat hy wou seker maak effektiewe dienslewering vind plaas.
Joan Steenkamp, Jaap se dogter, het Dinsdag gesê haar pa is 'n tydjie gelede positief vir Covid-19 getoets. Hy was in isolasie en is later in 'n hospitaal opgeneem. Die familie kon verlede Donderdag afskeid van hom gaan neem.
Volgens Joan was daar twee dinge wat uiters belangrik vir haar pa was - sy geloof in God en sy familie.
Sy het hom beskryf as 'n man van integriteit. "Hy het altyd tyd gehad vir mense. Hy 'n oplossing gehad vir 'n probleem. Nooit het hy enige leed aan iemand gedoen nie."
Sy begrafnis vind Vrydag 30 Julie plaas en as gevolg van Covid-19-protokolle sal getalle beperk word. Belangstellendes sal die begrafnis aanlyn kan volg en 'n skakel sal later beskikbaargestel word.
Braam du Preez, wat Steenkamp meer as 40 jaar geken het, het gesê hy gaan onthou word vir sy wonderlike nalatenskap.
Steenkamp en hy het saam bosbou aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Later het hul paaie weer in George gekruis en hulle het vriende geword.
"Jaap was standvastig. Hy het geglo waarvoor hy staan. Hy was nie bang om dit te verdedig nie."
Volgens Du Preez was hy 'n staatmaker en 'n sout van die aarde soort mens. Hy het diep spore in die bosboubedryf getrap. Hy het onder meer die Suid-Afrikaanse Bosbou Kontrakteursvereniging (Safca) gestig.
"Jaap het 'n passie vir bome, bosse en mense gehad." Steenkamp word oorleef deur sy eggenoot, Careen, twee kinders, Helgaard en Joan, 'n skoondogter, Nadia en drie kleinkinders.
Dr. Jaap Steenkamp
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'