GEORGE NUUS - 'n Groot boom op die hoek van York- en Fichatstraat het gistermiddag, Woensdag 15 Maart, knap na 14:00 omgeval, en 'n deel van die pad in Yorkstraat versper.
Volgens Lourens Grobler, 'n verkoopspersoon van Tiger Wheel and Tyre, die besigheidperseel waarlangs die boom gestaan het, het die munisipaliteit vinnig gespring met opruimingswerk sodat die pad weer vir verkeer toeganklik is.
"Dit is eintlik twee bome. Die een boom het uit die ander een gegroei," het hy verduidelik.
"Aanvanklik is daar gedink dat 'n verbykomende trok die boom gehaak en omgetrek het, en die trok is agterna gesit en weer na die toneel begelei. Maar, toe ons na die kringtelevisiekamera kyk sien ons die trok was net toevallig daar toe die boom omval. Die bestuurder het nie eens geweet 'n boom het amper op sy trok geval nie. Die boom was net vrot, en dit was nou maar sy tyd."
Tiger Wheel & Tire is tans besig met voorbereidings vir nuwe plaveisel, en het glo so beplan sodat hulle om die boom sou plavei. "Ons wou juis plek los vir die boom en die heining sou agter die boom verby gaan. Nou het hy gegroet," het Grobler gesê.
Die identiteit van die boom en sy maat wat uit hom gegroei het is nie aan George Herald bekend nie. Diegene wat weet kan gerus hul opinie gee.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'