Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Die Draai-egpaar van Rosemoor het twee van hul vier kinders - hul oudste seun en jongste dogter - in 'n huisbrand Sondagaand verloor.
Nosipho Juliana Draai, die ma van die kinders, was teen Dinsdag steeds in George-hospitaal vir brandwonde.
"Sy is stukkend oor die kinders," het haar man, Charlton Draai, gesê. Waydon (12) en Tenisha (7), beide leerders van St Mary's Primêr, het weens die brand omgekom.
Tenisha is in die puin van die gesin se houthuisie in Niewoudstraat gevind en Waydon is in George-hospitaal opgeneem, waar hy die volgende oggend gesterf het.
"Hy het Maandagoggend 10:15 gesterf. Waydon het 80% brandwonde opgedoen. Sy ma het langs sy bed gesit en vir hom gebid. 'n Traan het by sy wang afgeloop, en toe sterf hy," het Charlton Draai gesê.
"Toe ons Sondagaand na 23:00 wakker word van die hitte van die vlamme was dit net rook en donker. Ons moes op stemme werk om mekaar te vind. Ons moes deur 'n venster na buite klim en het straat toe gehardloop, waar die ambulans ons kom optel het. Waydon was in baie pyn. My vrou het bly roep vir Tenisha, maar ons het eers later agtergekom sy is nie by ons nie. Dit was te laat."
VIDEO: Pa vertel van twee kinders se dood na huisbrand
Charlton Draai saam met twee van hul vier kinders, wat die brand oorleef het. Meshay (8, links) en Charlton Jr (4). Foto: Michelle Pienaar
'n Kers in die gesin se woning is moontlik die oorsaak van die brand, maar dit is onduidelik presies wat gebeur het. Charlton hou sy ander twee kinders styf vas terwyl hy vertel van die gebeure. Sy kop en sy hart is op verskillende plekke en die emosie lê vlak. "As 'n mens maar net geweet het," het hy gesê. "Dinge kon soveel anders gewees het."
Die Draai-gesin het in 'n houthuis op Juliana se ma se erf gewoon, agter die hoofhuis. Alles is nou in puin.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat die dood van 'n sewejarige meisie ondersoek word. "Met die polisie se aankoms is die meisie met erge brandwonde gevind. Sy het aan haar beserings beswyk," het hy gesê. Die saak word ondersoek en die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie.
Charlton se werkgewer, Craig Scheepers van Freightmore, vra om hulp van die publiek vir donasies van kos, toiletware, klere en enigiets wat sal help in hierdie tyd.
Vir meer inligting kontak Scheepers by 044 868 0059 of laai donasies af by Freightmore, Pioneer Road 2, Pacaltsdorp Industria. "Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap, my werk en ons kerk met wat hulle reeds vir ons gedoen het," het Charlton Draai gesê.
Die department van maatskaplike ontwikkeling en menslike nedersettings is van die voorval verwittig en het 'n ondersoek van stapel gestuur, het senior kommu-nikasiebeampte Ntobeko Mangqwengqwe gesê.
"Menslike nedersettings sal die gesin van 'n noodstruktuur voorsien op 'n datum wat nog bepaal moet word."
Tenisha Draai (7)
Waydon Draai (12)
'n Inwoner soek skrootmetaal tussen die puin. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'