GEORGE NUUS - Sy laaste woorde aan haar familie was: “Ek maak haar vandag vrek.”
Chandré Vorster (32), of Blondie, soos haar vriende en familie haar genoem het, sou op 29 Maart haar 33ste verjaarsdag vier. Haar lewe is egter verlede Donderdag, 5 Maart, wreed kortgeknip en haar kêrel, Lhewellyn ‘Wha-Wha’ Trantraal (36), is tans agter tralies as hoofverdagte vir haar moord.
Vorster is tydens ’n kuier by vriende in Steynstraat, Conville, met ’n mes in die been gesteek. Sy is op die toneel dood nadat sy haar blykbaar doodgebloei het, aldus ’n familielid.
Vorster het ook verskeie kneusplekke op haar lyf gehad waar sy glo in die vroeë oggendure, dieselfde dag, deur ’n groep mense by haar en haar kêrel se woning in Rosemoor aangerand is. Luidens die familie vermoed hulle dat die aanval deel was van ’n gemene plan om haar leed aan te doen.
Trantraal se eerste verskyning in die George-landdroshof was Maandag 9 Maart, en sal hy weer môre, 13 Maart, vir ’n borgtogaansoek verskyn.
“Hy is veiliger binne die tronk as hier buite, want die mense is lus vir hom,” het een van die oorledene se familielede gesê. Die persoon wil graag anoniem bly omdat die saak nog ontwikkel.
Die gemeenskap is tans besig met ’n petisie in Conville om die ander vermeende verdagtes ook aan die pen te laat ry.
“Hulle is almal ou skollies in die gemeenskap, hulle moet hier uit,” het die een familielid gesê.
Die vermoorde Chandré Vorster. Foto: Verskaf
Dag van die moord
Die dag van haar dood het Vorster blykbaar vroegoggend, na die vermeende aanranding by haar eie huis, omstreeks 02:00 by haar ma se huis in Conville aangeklop.
Volgens ’n familielid is Vorster deur die polisie by haar ma se huis afgelaai nadat sy te voet daarheen onderweg was.
“Dit was duidelik dat sy aangerand is. Sy het vars kneusplekke aan haar lyf en gesig gehad,” het die familielid gesê.
“Daar was droë bloed in haar nek. Sy het vir haar ma gesê sy kan nie glo Wha-Wha [moordverdagte] is so vuil dat hy die skollies gekry het om haar te probeer doodmaak nie.”
“Later dieselfde oggend het Wha-Wha by haar ma se huis aangekom, en voor haar en die familie in die huis gesê hy gaan haar ‘vandag vrekmaak’."
Hy is volgens die familielid daar weg om ’n mes gaan koop. "Mense het hom gesien by die vaalwinkel in Fiskaalstraat. Toe sy dieselfde oggend by haar vriende gaan kuier het, het hy soontoe gegaan en haar daar gekonfronteer. Hy het sy plan deurgevoer.”
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die ondersoek na die dood van die slagoffer steeds aan die gang.
“Ons kan op hierdie stadium nie besonderhede oor die omvang van die ondersoek bekend maak nie, maar alle leidrade word opgevolg.”
Troosdiens
Die familie het vandeesweek drie troosdienste vir Chandré Vorster beplan, waarvan die laaste een vanaand plaasvind.
Die uitnodiging na die troosdienste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’