Lieneke Emmink, 'n begeesterde gemeentelid van die George Baptistekerk en koördineerder van die uitreikingsprojek in die Pearl-winkelsentrum op die grens van Heatherlands en Blanco (tussen die Meulboswinkelsentrum en Savers), is die dryfveer agter die idee om nuwe lewe in dié winkelsentrum in te blaas. Sy beywer haar ook om die hele George-gemeenskap betrokke te kry by al die aangename en leersame aktiwiteite.
Daar is byna daagliks gratis opleidingsessies waartydens gewerskaf word met 'n gesellige teedrinkery tussendeur. Blanco se vroue werk ywerig aan kombersies, handsakke en 'n hele reeks kleurvolle gebruikersartikels.
Lieneke sê die Baptistekerk het die leegstaande winkelkompleks in die André Fourie gebou betrek. "In een winkel is die Pearl Bargain Shop geopen en in die ander winkel word daar op Sondae om 10:00 kerk gehou. Klere wat nog so goed soos nuut lyk, skoene, handdoeke, beddegoed en kombuisartikels, word hier teen baie bekostigbare pryse te koop aangebied.
Die winkel is deel van 'n kerkplantingsprojek van die George Baptistekerk in Vyfdestraat. Die visie van die kerk is dat mense van die Blanco-gemeenskap nie net op Sondae bereik moet word nie, maar elke weeksdag ook."
Sy sê die naam Pearl verwys na Mattheus, waar Jesus "die pêrel van onskatbare waarde" genoem word. Daar is baie moontlikhede om opleiding uit te brei. "Ons dink aan kook- en bakklasse, vaardighede vir mans en huiswerk- en musiekklasse vir kinders. Die lys is oneindig.
Die wins wat deur die Pearl Bargain Shop gemaak word, word onmiddellik teruggeploeg in die vaardigheidsprojekte. Die vrouens wat die vaardigheidsprojekte ondersteun, is ook die grootste ondersteuners van die winkel. Dus word die geld wat hulle spandeer op die klere, onmiddellik weer tot hulle eie voordeel aangewend. Die produkte wat deur die Blanco- vrouens gemaak word, word ook verkoop. 'n Groot uitdaging is om markte
hiervoor te vind."
Lieneke vra verder dat die publiek die handgemaakte artikels moet kom koop, en ook die Pearl Bargain Shop moet ondersteun. "Kom koop asseblief by ons of skenk klere en gebruiksartikels deur dit by die winkel af te laai."
Die winkel is Dinsdae en Donderdae van 09:00 tot 16:00 oop en Saterdae van 09:00 tot 12:00. Lieneke sê mense kan haar ook kontak by 079 0785 140 om skenkings op te laai. "Skakel in by die werksgeleentheid- en vaardigheidsprojekte. Julle is baie welkom!"

Ontdek 'n paar skatte by Pearl Bargain Shop in Blanco. Van links is Noeline Delport-Ragadu, Sally Jonas, Letitia Rondganger, Stella Lotering, Pauline Shippendale, Joreka Januarie en (agter) projekleier Lieneke Emmink.
ARTIKEL EN FOTO'S: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS