Dit is die mening van Neil Carelse, die hooforganiseerder en 'n bekende plaaslike aktivis vir inheemse regte. Die fees gaan gehou word om die slawegeskiedenis van Blanco (vroeër Malgasvallei) en Preto (Watsonsdorp) te herdenk en bekend te stel. Dit begin komende Saterdag, 16 November met 'n sokkertoernooi waarvan die eindstryd op 1 Desember gaan plaasvind.
Die voorsitter van die feeskomitee, Aldred Kaffoen, het met die bekendstelling van die fees verlede week gesê die gemeenskap van Blanco beskik oor 'n titelakte vir grond wat destyds aan die slawe van Outenikwaland toegeken is. "'n Grondeis is vroeër ingedien. Die gemeenskap wil nie geld hê nie, maar grond."
Kidron Kaboni, sportontwikkelingsbeampte van die George-munisipaliteit, het gesê sla-werny het 'n verwoestende impak op mense gehad. "Hulle is afhanklik gemaak van alkohol en hul emosies is gekneg. Hulle is van kos en 'n ordenlike huis ontneem en so ook van hul identiteit en waardigheid." Volgens Kaboni het slawerny ook daartoe gelei dat sogenaamde 'mense van kleur' wie se velle bietjie ligter was, hulle as wit mense voorgedoen het en dus nie hul herkoms erken het nie. "Blanco kan vir die res van Suid-Afrika 'n voorbeeld stel met so 'n fees wat op hier-die geskiedenis fokus en die komitee moet alles in sy vermoë doen om die fees te laat groei."
Carelse het gesê dit is belangrik dat jongmense die fees bywoon en ondersteun. Dit sal ook gebruik word om die ontwikkeling van sport onder jeugdiges aan te moedig en daarom sluit dit 'n sokkertoernooi in. Dit word deur die Blanco Eagles gereël en agt spanne sal deelneem.
Carelse het vertel dat die vroeë inwoners van Blanco sokker gespeel het. Die geskiedkundige sportveld van Kretzenshoop Primêre Skool waar die finaal van die toernooi gespeel sal word, was destyds die enigste op Blanco en dit het dikwels gebeur dat twee wedstryde tegelykertyd op die veld gespeel is. "Terwyl spelers van die een wedstryd gedurende rustyd in die middel van die veld gesit het, het die wedstryd tussen die ander twee spanne om hulle voortgegaan," het Carelse vertel.
Die feesprogram, wat tot 7 Desember duur, sluit uitstallings in die klokkamer van die Primêre Skool Kretzenshoop, 'n groot bring-en-braai, 'n aand van geskiedenisvertellings, sang, voordrag en drama, 'n rieldans-kompetisie en 'n vereringsfunksie vir sporthelde voor 1994, in.
Vir meer inligting, bel Neil Carelse by 078 105 3432.
* Blanco residents are excited about the Remember Me Malgasvallei/Preto History Festival programme that starts this Saturday 16 November with a soccer tournament. The festival programme, which commemorates the slave history of Malgasvallei (Blanco) and Preto (Watsonsdorp), will run until 7 December and includes exhibitions at Kretzenshoop Primary School, a mass bring and braai, an evening of history storytelling, song, dance and drama, a riel dance competition and a function to honour sport heroes before 1994.

Die sokkerspan van Blanco Eagles is reg vir die Malgasvallei/Preto-sokkertoernooi wat komende Saterdag as deel van die geskiedenisfees afskop.