Besoekers van ander dele in die land wat geliefdes se graftes besoek, spreek gereeld hul skok en ongeloof uit oor die toestand van die grafte en totale gebrek aan beheer op hierdie gebied.
Dit kom voor asof dit oor naweke en saans die bymekaarkomplek van bendes en 'n veilige hawe vir leeglêers en tikgebruikers is.
Rye grafstene is omgestoot en stukkend geslaan, blompotte is gesteel en graffiti is oral op grafte geskryf.
Die grootste deel van die veiligheidsheining wat die munisipaliteit opgerig het, is reeds drie keer gesteel en die hek bestaan jare nie meer nie.
Voetgangers gebruik die begraafplaas as gerieflike kortpad om na Blanco te stap en in die proses word blomme en ruikers weggedra en alles wat verkoop kan word, gesteel.
Mnr. Dale Barnard, wat 'n familielid se graf besoek het, was geskok toe hy daar opdaag en sien watter verwoesting daar heers. Hy was hartseer om te sien hoe sy vader se graf, wat die familie baie geld gekos het, verwoes is.
Ander naasbestaandes wat blomme op hul geliefdes se grafte wou plaas, het besluit om net een blom op die graf te los en die res van die blomme saam te vat, want hulle is oortuig dat die blomme gesteel en verkoop gaan word.
Daar is in elk geval nie een blompot oor waarin hulle die blomme kan plaas nie.
"As die munisipaliteit 'n wag by die ou krokodilplaas kan plaas," het Barnard gesê, "kan hulle ook wagte by begraafplase ontplooi."
Die kollig het opnuut weer op begraafplase geval nadat 'n debat rond-om hierdie onderwerp in die burgemeesterskomiteevergadering gevoer is.
Die hoofsweep in die raad, Flip de Swardt, het tydens die debat ver-wyte na die amptenary geslinger wat veronderstel is om inspeksies by die begraafplase uit te voer.
Die direkteur van gemeenskapsdienste, André Smith sê die munisipaliteit doen wel gereeld instandhoudingswerk, maar dat die munisipaliteit nie kan pa staan vir grafskending nie. "Die Blanco-begraafplaas se heining gaan binnekort vir die derde keer sedert 2007 herstel word. Ongelukkig is daar mense wat deurgang deur die begraafplaas wil hê op 'n daaglikse basis. Hekkies is al in die verlede in die heining aangebring om voetgangerverkeer wel toe te laat. Beide hoof en voetgangerhekke is egter gesteel en die heining feitlik in geheel beskadig. Die beskadiging van grafstene in die begraafplaas word betreur.
Die grafstene word deur vandale beskadig wat die grafkopstukke sonder rede platstoot. Die munisipaliteit maak wel die begraafplaas skoon, maar kan nie privaat grafstene weer herstel nie en derhalwe berus die herstelwerk by die naasbestaandes. Die munisipaliteit is tans besig met die aanbring van geslotekringtelevisie-kameras by munisipale eiendom ten einde vandalisme en diefstal te probeer bekamp. Dit is jammer dat selfs begraafplase nou ook onder 'n wakende oog gehou moet word."
'n Klein stukkie heining wat oorgebly het terwyl die hek lank nie meer bestaan nie. Dit is die ingang van die Blanco-begraafplaas. Twee voetgangers vat kortpad deur die begraafplaas.
ARTIKEL EN FOTO'S: JANNIE MEYER
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'