GEORGE NUUS - ‘n Biokinetikus van George, Quinten Potgieter (27), het gisteraand in George-hospitaal gesterf na ‘n botsing gisteraand omstreeks 20:00 in Knysnaweg.
Potgieter was op pad terug huis toe met sy Chevy Sonic na ‘n oefensessie met die Crusaders-rugbyspan by Rosemoor-stadion toe die ongeluk by die Le Vallia-afdraai in Knysnaweg plaasgevind het.
Polisiewoordvoerder kapt. Malcolm Pojie het bevestig dat twee voertuie in die botsing betrokke was – ‘n Jaguar wat onderweg was vanaf Knysnaweg in die rigting van die Garden Route Mall, en ‘n Chevy wat vanuit Le Valia op pad was.
Potgieter is ernstig beseer en is na George-hospitaal geneem. Volgens sy ma, Adele Potgieter, het nooddiensbeamptes hom op die toneel probeer bybring. “By die hospitaal het hulle vir ons gesê hy het erge kopbeserings. Quinten het rondom 20:30 aan sy beserings beswyk.”
Volgens Pojie was die bestuurder van die Jaguar ongedeerd. Potgieter het egter verneem dat die bestuurder wel lig beseer was. ’n Saak van roekelose en of nalatige bestuur is geopen en word deur SAPD ondersoek.
Die oorledene se pa, Chris Potgieter, was in Worcester toe hy die nuus van die ongeluk ontvang het. “Hy het teruggery na George en was teen middernag hier,” het Adele Potgieter gesê.
In sy Facebook-inskrywing sê Chris Potgieter hy skryf met ‘n gebroke hart, en dat sy seun se dood ‘n groot terugslag vir die gemeenskap is.
Adele Potgieter deel ook op Facebook ‘n boodskap aan haar seun: “My hart is stukkend, nog ‘n deel van my is weg. Dankie vir alles, dat jy my seun was, my kind, my roomie, my person. I love you.”
In ‘n gesprek vanoggend beskryf Potgieter hul oudste seun as ‘n baie groot sportman, wat lief was vir die lewe. “Hy was die Arende se conditioning coach, wat moes sorg dat die manne fiks bly,” het sy vertel.
Quinten was ‘n groot sportman wat lief was vir die lewe.
Quinten se praktyk, Potgieter & Pike Biokineticists, praktiseer by Groenkloof se Wellness-sentrum, by Genevafontein en ook in Sedgefield.
Quinten was ‘n oud-Kwagga en is in George gebore en getoë. Hy het onlangs sy meestersgraad in biokinetika aan Nelson Mandela Universiteit voltooi en sou later vanjaar sy graad ontvang.
Quinten word oorleef deur sy ouers, Chris en Adele Potgieter, sy jonger broer Estian (22) en sy meisie, Tyra van Niekerk.
Quinten en sy broer, Estian.
Quinten en sy meisie, Tyra van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'