GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse departement van gesondheid stel ondersoek in na 'n voorval wat na bewering op Sondag 1 Desember by die George-hospitaal plaasgevind het.
Die familie van 'n oorledene, Elgina Hobani (49) is baie ongelukkig oor die behandeling wat hulle na bewering ontvang het en het 'n klagte by die departement ingedien.
Koba Oosthuizen, 'n familielid, het aan die George Herald gesê Hobani het op die betrokke dag siek geword. 'n Ambulans is ontbied nadat sy begin bloei het. Op pad na die hospitaal is haar pols geneem en dit was blykbaar laag. Sy is by die hospitaal na binne geneem waar sy dood verklaar is.
Na bewering is haar liggaam toe weer na die ambulans teruggeneem in opdrag van iemand by die hospitaal. Haar familielede was ontsteld hieroor en kon dit nie verstaan nie. Hulle wou gehad het sy moes nog in die hospitaal bly tot 'n begrafnisondernemer haar liggaam kom haal.
"Ons beskou dit as onmenslik en onsensitief. Blykbaar het een van die ander susters om verskoning gevra namens die een wat betrokke was by die voorval, maar dit is nie genoeg nie. Ons gaan die saak verder neem," het Oosthuizen gesê.
Oosthuizen het gesê die voorval was baie traumaties vir die familie. "Dood is al klaar erg en so 'n voorval maak dit erger. Daar was beddens binne die hospitaal leeg en sy kon nog daar gelê het. Die familie glo sy het 'n reg gehad om met menswaardigheid behandel te word en dat sy met die nodige respek behandel moes word."
Hobani is op Saterdag 14 Desember begrawe.
Nadia Ferreira, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het by navraag gesê dit is jammer as die familie 'n negatiewe ervaring gehad het. "Ons het 'n skriftelike klagte ontvang en stel tans ondersoek in. Daarna sal ons aan die familie terugvoering gee."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'