Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy sal nie omgee as sy seun ook eendag gekies word om vir die Springbokke uit te draf en in sy voetspore te volg nie, maar uiteindelik moet hy self besluit wat hy met sy lewe wil doen.
So het die oud-Springbok, Bevin Fortuin vertel oor sy seun, Aaron-James, wat op 7-jarige ouderdom al behendig is met 'n rugbybal.
Aaron-James, 'n gr.1-leerling by Laerskool Blanco het die afgelope seisoen al sommer 16 keer agter die doellyn vir sy span gaan kuier.
Fortuin, een van George se bekendste inwoners en iemand wat self die Springboktrui gedra het, het met die George Herald gepraat oor Vadersdag, en die belangrikheid van vaderskap.
Volgens hom is Aaron-James en hy baie na aan mekaar en hulle doen baie dinge saam. "Mense sê hy lyk presies soos ek. Ek sê soms vir mense dis my kleiner boetie of hy is my tweelingboetie."
Fortuin geniet dit om pa te wees. "Aaron-James is 'n seëning en 'n geskenk van Bo. Ek is baie dankbaar vir die afgelope sewe jaar wat ek pa kan wees."
Een van die redes waarom Fortuin 'n tydjie gelede besluit het om by die Blou Bulle in Pretoria weg te gaan en na George terug te keer, was omdat Aaron-James skool toe is.
Volgens Fortuin is hy 'n besige mannetjie en 'n woelwater as hy rugby speel. Hy verskaf hom baie genot, maar soos elke 7-jarige het hy ook uitdagings. "Dis 'n plesier om hom rondom my te hê."
Hy het hom al die fynere kunsies van rugby begin leer. Aaron-James het op sy beurt ook gevra hoe om te skepskop.
Hy glo sy seun het talent en moontlikhede. "Wie weet waar dit kan eindig as hy hard werk."
"Ek wil nie een van die daai pa's wees van: Jou pa was dit, dus moet jy ook so wees."
Hy sal hom altyd ondersteun in sy rugby. In die stadium gaan dit daaroor dat hy die rugby moet geniet.
So op 'n ligte trant het hy vertel dat Aaron-James groter is as die ander sewejariges in sy span. Sy spanmaats gee vir hom die bal sodat hy kan deurhardloop en druk. Aaron-James het aan hom vertel dat hy vir Blanco wil speel en dan vir die Bokke. "Hy wil sommer die provinsiale vlak skip en reguit van Blanco na die Bokke gaan," het Fortuin gespot.
Kyk 2 video's hieronder.
Bevin se pa, Colin Stoffels, is verlede jaar oorlede en hy praat graag oor hom. Dis hartseer dat hy nie meer daar is nie, maar hy onthou dit wat hy by sy pa geleer het.
"My pa was 'n saggeaarde man en teruggetrokke. Ek het by hom geleer hoe om mense te hanteer, met mense te praat en hoe om met jou medemens saam te leef."
Nou kry hy die geleentheid om dit wat hy by sy pa geleer het terug te ploeg by sy eie seun.
Een van die dinge is dissipline. Aaron-James weet as hy nie goed op skool doen nie word sy sport en rugby weggevat.
Aaron-James het gesê hy weet dat sy pa vir die Springbokke gespeel het en hy is trots op hom.
Sy pa leer hom meer van rugby en hy sal ook eendag vir die Springbokke wil speel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'