GEORGE NUUS - Vir 'n man van Wilderness, het 'n beplande taxirit van George na sy huis, in 'n nagmerrie ontaard ná hy glo deur die bestuurder van die voertuig met 'n mes gedreig en byna omgery is.
Die slagoffer, wat verkies om anoniem te bly, sê hy was van plan om 'n rit met die vervoermaatskappy Bolt te neem, toe die voorval in die parkeerarea by die Glenwood-gholfbaan plaasgevind het.
"Ek het die bespreking deur die Bolt-toep (App) sowat 14:30 gemaak en betaal. Kort daarna het die voertuig opgedaag.
"Toe ek by die kar kom vra die bestuurder vir my of ek vir hom R500 het, want hy het glo nie genoeg brandstof in sy voertuig gehad om ons tot in Wilderness te vat nie. Ek het op sy meter gekyk en hy het nog meer as 90 km gehad voor dit nodig sou wees om brandstof in te gooi.
"Ek het dit baie vreemd gevind en aan hom genoem dat, buiten dat ek nie nog ekstra gaan betaal vir 'n rit wat ek reeds betaal het nie, R500 se brandstof totaal verregaande is vir 'n rit van George na Wilderness," vertel hy.
Volgens die passasier het die bestuurder hom toe vir R250 gevra waarna die passasier geweier het en die rit wou kanselleer. Dis toe dat die vonke spat.
"Ek het gesukkel om te hoor wat hy sê. Dit het gelyk asof hy van Arabiese afkoms is, maar toe ek die rit wou kanselleer, het hy my met 'n groot mes begin dreig. Hy het my met die mes om die voertuig gejaag voor ek daarin kon slaag om te ontsnap en hom af te weer ná daar hulp opgedaag het.
"Hy het toe in sy voertuig geklim en my amper platgery toe ek die voorkant van sy voertuig afgeneem het."
Bolt reageer
Die voorval is deur die slagoffer aan Bolt gerapporteer. "Ons was in kontak met die kliënt oor hierdie baie ongelukkige voorval en ons is baie jammer oor sy ervaring. Ons is besig met 'n interne ondersoek en die betrokke bestuurder is tydelik geskors hangende die uitslag van 'n interne ondersoek.
"Bolt sal nie dié soort gedrag wat deur die passasier beskryf word duld nie en die bestuurder sal permanent geskors word indien gevind word dat hy ons baie streng gedragskode oortree het. Ons sal ook die kliënt aanmoedig en ondersteun indien hy kriminele klagte wil lê," het 'n woordvoerder van Bolt gesê.
Die voorval was teen druktyd nog nie by die polisie aangemeld nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'