GEORGE NUUS - ‘n Besigheidsman van New Dawnpark in Pacaltsdorp, Robert Fako, bied ‘n beloning van R10 000 aan enigiemand met inligting rondom ‘n voorval wat Donderdagoggend, 22 April kort na middernag, by sy huis in Wilgestraat plaasgevind het.
Fako se twee voertuie, ‘n Opel Corsa-bakkie en ‘n Opel Astra-motor, is na bewering met petrolbomme bestook en aan die brand gesteek.
“Ek het omstreeks 23:00 gaan slaap en wakker geskrik van mense wat gil en skree. Toe ek uitstap sien ek my twee voertuie in vlamme,” vertel hy.
Gelukkig vir Fako het sy bure vinnig ingespring om die vlamme te blus, maar ongelukkig kon die skade aan die voertuie nie vermy word nie. “Daar is baie skade aan die voertuie wat gaan geld kos wat ek nie nou het nie. Ek het ‘n klein besigheid wat ek op die been probeer bring en die is ‘n groot terugslag,” sê hy.
Fako sê hy weet nie van iemand wat doelbewus so iets aan hom sou doen nie en vermoed dat dit blote jaloesie is.
Hy het ‘n beloning van R10 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisname van die skuldige(s) sal lei.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om Fako by 079 297 0834 of die Pacaltsdorp-polisie by 044 803 9106 te skakel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Fako bied ‘n beloning van R10 000 aan enigiemand met inligting rondom die voorval waarin twee van sy voertuie beskadig is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'