GEORGE NUUS - Die George-belastingbetalersver-eniging (GBV) beplan om in die toekoms 'n groter impak te hê op munisipale aangeleenthede deur 'n doelgerigte poging om hul ledetal te laat groei en 'n nuwe bestuur wat bygestaan sal word deur 'n uitgebreide groep lede.
By die vereniging se algemene jaarvergadering op Dinsdagaand, 24 Februarie, is Jacques Wessels as voorsitter herkies. Die nuwe ondervoorsitter is Christo Vrey, tesourier Dirk Stander en twee gewone bestuurslede Barend Janse van Rensburg en Uwe Putlitz.
'n Groep van 15 lede is ook aangewys wat 'n span sal vorm om die bestuur by te staan om beter monitering oor kwessies wat belastingbetalers raak, te verseker.
Volgens Wessels het die vereni-ging groter verteenwoordiging in die gemeenskap nodig sodat hulle beter oorsig oor munisipale sake kan uitoefen en het 'n beroep op belastingbetalers gedoen om betrokke te raak.
Verskeie kwessies, wat die vereniging tot kommer stem, is genoem. 'n Saak wat 'n lang bespreking uitgelok het, was die veroudering van die stad se waterpypleiding en gevolglike drinkwaterverliese, asook die nodigheid vir uitbreiding van infrastruktuur.
Die algemene gevoel was dat waterstoorkapasiteit vergroot moet word om vir die groeiende bevolking voorsiening te maak, veral in ag genome dat die stad 'n relatiewe klein opvangsgebied het. Sekere aspekte van die begroting en jaarlikse prestasiebonusse is ook as kommerwekkende kwessies uitgelig.
"Ervaring het geleer dat toegang tot inligting, al is dit net basiese inligting oor aspekte soos die munisipale begroting, baie moeilik is om te bekom en dit belemmer ons pogings om deursigtigheid te bewerkstellig," het Wessels gesê.
"Die munisipaliteit is die eerste linie van beskerming tussen ons en die vergetelheid. Iemand moet streng toesig oor hulle uitoefen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’