GEORGE NUUS - Die eienaar van Pony Express, Trevor Henning (69), het Donderdagmiddag in sy agterplaas in Derdestraat gesterf toe ‘n 28-sitplek toerbus, waaraan hy herstelwerk gedoen het, op hom geval het.
Henning het vir die afgelope 22 jaar georganiseerde bustoere in die Tuinroete bedryf en is wyd bekend vir sy liefde vir die bedryf en kennis van die omgewing.
Volgens sy dogter, Adele Nolte, wat op dieselfde perseel as haar ouers woon, was haar pa Donderdag besig met herstelwerk aan een van sy groot toerbusse toe die ongeluk plaasgevind het.
“Ek was in my woonstel besig om te werk, en my pa het aan ‘n bus langs my woonstel gewerk,” het Adele gesê. “Sy honde was hier saam met myne, besig om te speel. Hulle het so tussen ons rondbeweeg. Ek het my pa omstreeks 12:00 nog hoor werk aan die bus. Op ‘n stadium was sy honde die heeltyd by my, en ek het gewonder hoekom, maar ek het aanvaar hy het iets anders gaan doen,” het sy gesê.
Teen 16:15 het Adele se ma, Elsa Henning, van die werk teruggekeer en wou sy weet waar haar man is. “Ek het gedink hy het dalk besluit om na Checkers te stap,” het Adele gesê. “Ons het my pa oral gesoek, en toe onder die bus gevind.” Trevor het onder die bus gelê toe een van die domkragte (jacks) meegee en die bus op hom val.
Volgens Adele is haar ma nog in skok na die voorval en voel alles baie onwerklik.
Trevor sou in Desember sy 70ste verjaarsdag vier.
Die Henning-gesin in gelukkiger dae.
Nege lewens
Sowat nege jaar gelede was Trevor in ‘n groot ongeluk met ‘n Quantum-bussie in die Tredouxpas naby Montagu. Die bussie het op ‘n onverklaarbare wyse aan die brand geslaan en Trevor het erge brandwonde oor sy hele bolyf, kop en arms opgedoen.
Volgens Adele was hy vir twee maande in ‘n geïnduseerde koma in die George Mediclinic, waarna hy vir bykans ‘n jaar behandeling moes ontvang.
“Hy het dit oorleef, en nou gebeur so iets,” het Adele gesê. “Ons het altyd grappenderwys gesê my pa het al drie katte se nege lewens opgebruik.”
Trevor en sy gesin het in 1989 na George verhuis. Hy het destyds die Wimpy in Pacaltsdorp gekoop en met die toerbusmaatskappy begin. “Dit was sy passie om mense op toere te neem en langtermyn vriendskapbande te bou. Hy het soveel mense geken, hy wou homself altyd omring met mense. Ons was so bang hy word siek van Corona, toe gebeur dít met hom,” het sy gesê.
‘n Bus soortgelyk aan die een wat Trevor Henning se dood veroorsaak het.
Na Trevor se ongeluk agt jaar gelede het hy op sy geloof staatgemaak om die trauma te verwerk. Volgens Adele was haar pa nou betrokke aan die AGS Sorteria-gemeente en het graag meegedoen aan projekte vir die gemeenskap. Dié gemeente help tans die Henning-gesin deur hierdie moeilike tyd.
Trevor word oorleef deur sy vrou, Elsa Henning, sy dogters Adele Henning, Wanda Henning, en Vicky Botha. Hy was ook die oupa van drie kleinkinders.
Trevor se gedenkdiens sal opgeneem word en vriende en familie sal dit regstreeks kan volg. ‘n Datum vir die diens moet nog bepaal word.
‘n Meer onlangse foto van Trevor Henning, in een van die groot 28-sitplek toerbusse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'