GEORGE NUUS - 'n Baie bekende sakeman van George, Hennie Barnard (56), het aan 'n hartaanval gesterf toe hy besig was met 'n rondte gholf.
Barnard het op 5 Mei saam met vriende by die Kingswood-gholfbaan gholf gespeel toe hy begin sleg voel het. Hy is na die klubhuis geneem waar hy later oorlede is.
Barnard en sy voormalige eggenoot, Elmaré, het oor die jare 'n hele paar sake-ondernemings op die been gebring en was onder meer saam in die kleinhandelbedryf betrokke.
Van die ondernemings wat deur Hennie begin is en steeds florerende besighede is, is Yorkers Superette in Yorkstraat, Henel Minimark in Hoopstraat en Henmar's Superette in Wellingtonstraat.
Hennie en Elmaré was saam op skool in Oudtshoorn en hulle het later in George gevestig.
Elmaré het Maandag gesê Hennie was 'n absolute entrepreneur. "Hy was 'n geweldige ekstrovert en 'n mens-mens. Hy het goed oor die weg gekom met alle mense op alle vlakke."
'n Familielid wat verkies om anoniem te bly, het gesê Hennie was 'n baie goeie sportman en het reeds op skool SWD-klere in verskeie sportsoorte verwerf.
Hy was baie lief vir gholf en het al baie jare gespeel. Volgens die familielid is sy skielike dood 'n geweldige slag vir sy familie - veral vir sy twee kinders, Hennie jr. en Marchell. "Dis 'n groot slag vir die kinders."
Sedert die nuus oor sy dood bekend geword het, het verskeie mense hul medelye betuig. Van hulle is mense met wie hy in die sakewêreld te doen gehad het.
'n Troosdiens is Saterdag 14 Mei gehou.
Marc van der Klashorst het vertel dat hulle die afgelope vier jaar vriende was. Hulle het die dag saam met 'n paar vriende sosiaal gholf gespeel.
Dit was soos enige ander dag. Nadat Hennie begin sleg voel het, is hy na die klubhuis geneem. Volgens Marc was Hennie se dood onverwags. Hy het Hennie as 'n baie sosiale mens beskryf wat altyd gesprekke aan die gang gehou het.
"Ek het baie oor besigheid by hom geleer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'