GEORGE NUUS - Die plaaslike atletiekwêreld is 'n swaar hou toegedien met die onlangse dood van lt.kol. Jan Hendrick Booysen (83). Booysen, beter bekend as oom Jan, is op Dinsdag 4 April oorlede.
Hy het sy loopbaan by die Suid-Afrikaanse Weermag begin en as 'n luitenant-kolonel uitgetree.
Na sy uittrede, begin hy as 'n permanente werker by Atletiek SA, wat toesien dat tegniese beamptes regoor die land (17 provinsies) opgelei word veral om landloopbane uit te meet of uit te lê.
Hy word beskou as die mees passievolle en bekwaamste IAAF (Wêreldatletiek) tegniese beampte in atletiek. Hy het ook van die spanne as spanbestuurder na internasionale kampioenskappe vergesel en was vir meer as 60 jaar betrokke by atletiek.
Hy begin by die destydse Noord-Transvaal (nou Atletiek Gauteng-Noord) en beweeg saam na eenwording in Suid-Afrika.
Jan Booysen in sy weermagdae.
Ongeveer 17 jaar gelede, na sy uittrede as werknemer van Atletiek SA, verhuis hy na die Suid-Kaap en vestig hom in George.
Hy was by alle fasette van atletiek (landloop, padhardloop, baan-, veld- en padstap) in die SWD betrokke en het nie geskroom om sy kennis en ervaring as tegniese beampte met die nuwe generasie te deel nie.
In 2014 tree hy in die huwelik met Linda Stuurman van wie hy altyd met lof gepraat het. Tydens sy siekte word hy versorg deur sy vrou, met die nodige sorg en liefde wat hy verdien het.
Atletiek SWD spreek hul innige meegevoel uit teenoor sy vrou, en bedank haar ook dat hulle deel van sy begrafnis kon wees wat op Saterdag 15 April plaasgevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’