GEORGE NUUS - Medelye stroom in na die dood van Fazlin Rhoda (57), ‘n vrou wat bekend is vir haar skoonheid van persoon en karakter.
’n Grimeerkunstenaar wat bruide oor die jare heen gehelp het om op hul beste te lyk, op hul groot dag.
Fazlin en haar man, Anwar, is ses weke gelede in Mediclinic Vergelegen met Covid-19 opgeneem. Beide is vir drie weke in die waakeenheid versorg.
“My ma het as kind asma gehad, wat waarskynlik haar herstel beïnvloed het. Sy het longontsteking opgedoen en is Woensdag 28 Julie aan fibrose van die longe oorlede,” het haar seun, Yaasier Rhoda gesê.
“My pa het by die dood omgedraai. Hy het ‘n 2% kans op oorlewing gehad, maar hy het dit gemaak. Ek versorg hom tans tuis.”
Fazlin Rhoda voltooi haar kunswerk. Sy was 'n gewilde keuse as grimeerkunstenaar vir menigte bruide in die George-omgewing.
Foto: Herman Pieters
Diep spore
Fazlin is welbekend in George waar sy in 1995 haar skoonheidsalon, Exquisite Salon, oopgemaak het. Anwar Rhoda was destyds die eienaar van South Cape Poultry. Die egpaar het George in 2018 verlaat en na Somerset-Wes getrek om naby hulle vyf kinders te wees. Die kinders het hul skoolloopbane in George voltooi en daarna na Kaapstad verhuis.
“My ma het in baie kliënte se harte gekruip en lewenslange vriende gemaak,” het Yaasier Rhoda gesê.
Fazlin Rhoda voltooi haar kunswerk. Sy was 'n gewilde keuse as grimeerkunstenaar vir menigte bruide in die George-omgewing.
Foto: Herman Pieters
“Sy het baie saam met die fotograaf Herman Pieters gewerk. Hulle was goeie vriende. Ek ontvang tans tientalle oproepe elke dag van mense regoor die wêreld wat wil weet wat gebeur het. Ek wil mense waarsku teen hierdie siekte. Dit is nie speletjies nie, ek het self by my ouers aangesteek.
"Nadat ek die verskriklike siekte beleef het sal ek verseker myself laat inent. Op die selfde dag wat my ma gesterf het, het ‘n 25-jarige en ‘n 18 maande oue baba gesterf. Covid skeur families uiteen. Ons moet elke dag ons geliefdes eer.”
Yaasier en die res van hulle gesin het ‘n kans gehad om hul ma te groet, waarvoor hy baie dankbaar is. “Ek het daardie spesiale bedekking aangetrek en vir twee dae lank by haar gesit, in haar laaste ure. Aan die einde kon sy nie meer praat nie, maar sy wou nie hê ek moet gaan nie. Sy het mooi gegaan.”
Fazlin Rhoda voltooi haar kunswerk. Sy was 'n gewilde keuse as grimeerkunstenaar vir menigte bruide in die George-omgewing. Foto: Herman Pieters
Rolmodel
Herman Pieters, tans die hoof van Garden Route-distrikmunisipaliteit se kommunikasieafdeling, het gesê hy verwerk nog die nuus van Fazlin se skielike heengaan: “Ek is steeds hartseer en oorweldig met emosie. Toe sy in die hospitaal opgeneem is, het ek regtig gedink dat sy binnekort sou terugkeer huis toe, sterker as voorheen.
“Sy het 'n belangrike rol in my lewe gespeel vanweë haar bydrae tot my fotografie en as 'n goeie vriend en vertroueling. Ek het gereeld na haar verwys as my 'tweede ma', en sy het dieselfde gedoen en na my verwys as 'n seun vir haar. Sy was ‘n sterk vrou en ‘n inspirasie vir ander vroue. Ek sal haar optimistiese en vriendelike geaardheid baie mis. My gedagtes en gebede is steeds by haar familie.”
Fazlin Rhoda word oorleef deur haar man, Anwar en hul vyf kinders Yaasier, Najma, Najwa, Yusrie en Yusuf Rhoda.
Voor, van links is Najma en Najwa (dogters), Fazlin Rhoda, haar man Anwar, en hul jonste seun, Yusuf. Agter is Haadie Bardien (skoonseun), Yaasir en Yusuree (seuns).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'