Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier is op soek na twee mans wat 'n 75-jarige vrou wreed in haar woning in Voorbrugweg op Groot-Brakrivier aangerand het.
Die slagoffer, wat haar bewussyn verloor het, is vermoedelik reeds op Maandagaand, 23 Julie in haar bed oorval, maar kon eers die volgende dag hulp ontbied nadat sy wakker geword het en daarin kon slaag om haar vasgebinde hande met 'n skêr los te sny. Die slagoffer het 'n vriendin op Dinsdag 24 Julie vanaf haar huistelefoon gebel waarna die polisie na die woning ontbied is.
Met die polisie se aankoms by die woning was slegs 'n venster by die sitkamer oop en al die deure was gesluit. Die polisie het noodgedwonge toegang tot die erg beseerde vrou verkry deur by die venster in te klim. Die slagoffer, wat alleen woon, se gesig was toegeswel en pers en blou gekneus en bebloed na die aanranding. Sy het ook kneusplekke op haar nek gehad waar sy met 'n tou of die koord van 'n selfoon gewurg is.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes, wat na bewering nie Afrikaans of Engels praat nie, toegang tot die woning verkry het deur by die sitkamervenster in te klim.
Die slagoffer is onder meer gewurg en aangerand en dit is nie bekend of sy geslaap het toe die verdagtes deur die venster geklim het nie. Dit is ook nie bekend hoe lank die aanranding geduur het nie.
Die huis is geplunder en die verdagtes het met onder meer haar selfoon gevlug.
Die slagoffer is na die Mosselbaai-hospitaal geneem en is op Woensdag 25 Julie na die George-hospitaal oorgeplaas. Volgens die polisie woon haar familie in Gauteng en teen druktyd moes verskeie verklarings nog geneem word.
'n Saak van huisroof word ondersoek.
Die huis waarin die bejaarde vrou wreed aangerand is.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'