Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Van op die stoep sit weet die inwoners van Tuiniqua nie en daar is duidelik besondere kunstalent onder hulle. Van hul kunswerke was verlede Donderdag, 25 Mei, te sien toe Tuiniqua se jaarlikse Kunstedag gehou is. Dit was die tweede keer dat dit aangebied is.
Van asemrowende skilderye, loodglaswerk, houtsneewerk tot fyn naaldwerk was te sien.
Die dienssentrum-koördineerder, Annelie Bennet, het vertel dat daar baie talent onder die inwoners is. Dit is net 'n uitstalling en niks word verkoop nie. Die plan is om later vanjaar 'n entrepreneursdag te hou en dan sal van die kuns te koop aangebied word. "Ek is verras oor al die talent hier onder ons inwoners."
FOTOGALERY: Tuiniqua se jaarlikse Kunstedag
Paul Stander (80) het gesê hy skilder en dis 'n stokperdjie. Hy woon al 40 jaar in George en hy het sowat 20 jaar gelede met die stokperdjie begin.
"Ek skilder graag natuurtonele. My kleinkinders koop die doek en verf vir my. Dis nie moeilik nie. Jy moet net geduld hê."
Dit neem hom sowat drie dae om 'n skildery te voltooi en hy skilder hoofsaaklik van 'n foto af.
Maureen du Preez (77) maak onder meer tapisserieë, juweliersware en sy brei en hekel ook. Sy het grootgeword in George. Toe sy vyf jaar oud was het haar ouer suster haar leer brei.
In 'n stadium het sy ook klere gemaak. Sy het ook haar een dogter se trourok gemaak en twee dogters se matriefafskeidsrokke.
Sy beskou haar kuns as 'n stokperdjie. "Dis goeie terapie. Mens skep iets en dis wonderlik."
Susan Snyman (76) woon al 56 jaar in George. Sy brei en maak poppe en diertjies van materiaal. Sy brei al van kindsdae af en het nog altyd naaldwerk gedoen. "Ek geniet dit en sal dit aanbeveel. Dis terapeuties. Dis iets wat mens self geskep het."
VIDEO: Kyk die kuns talent van bejaardes
Van die houtsneewerk wat deur een van die inwoners gedoen word. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’