Edward Zaayman en sy vrou Amonique is verlede Dinsdag tussen George en Oudtshoorn by 'n padblokkade voorgekeer, waarna Zaayman gearresteer is. Die arrestasie volg nadat Zaayman twee motors by 'n handelaar in Oudtshoorn gekoop het, maar nie daarvoor betaal het nie. Hy het op 2 en 3 Oktober 'n Polo Vivo en 'n Nissan Almera by 'n handelaar in Oudtshoorn gekoop.
Hy het die Vivo op sy vrou se naam geregistreer en die Almera aan sy pa in Mosselbaai gegee. Die handelaar in Oudtshoorn het verlede Dinsdag agtergekom dat die betalings vir die twee motors nooit ontvang is nie en het 'n klag van bedrog by die SAPD gelê.
Blue Flag ingeloop
Zaayman en sy vrou het sowat twee weke nadat die twee voertuie in Oudtshoorn gekoop is, die Polo Vivo aan Blue Flag Motors in George vir R90 000 verkoop. Die prys wat hulle in Oudtshoorn moes betaal was R114 000.
Volgens die eienaar van Blue Flag Motors, Werrie Dippenaar, het Edward en Amonique Zaayman en nog 'n vrou wat as Amonique se ma voorgestel is, die besigheid besoek en die Polo te koop aangebied. Nadat een van Dippenaar se verkoopsmanne bevestig het dat die Polo op Amonique se naam is, is die transaksie beklink en die geld is in Amonique se rekening inbetaal. Verlede week het die polisie egter op die Polo beslag gelê en Dippenaar verwittig dat die motor glo wederregtelik verkoop is.
"Ek weet nie wat om te doen nie. Ons het alles reg gedoen en daar was nie 'n manier vir ons om te weet die Polo is nooit by die vorige handelaar betaal nie. Volgens die registrasiedokumente was die Polo wettig op Amonique se naam en sy het die kar aan ons verkoop. Iewers het iemand 'n fout gemaak en nou betaal ek daarvoor."
Die verkoopsman wat die transaksie beklink het, het hierdie week ook gesê dat die besigheid byna nog 'n stel met die Zaaymans afgetrap het nadat hulle nog 'n motor wou inruil op 'n Mercedes Vito wat op die vloer was. "Zaayman het gesê dat hy 'n ambulansdiens het en dat hy die Vito wil koop en as 'n ambulans inrig. Ek is net bly daardie transaksie is nie gedoen nie, dan was ek dalk nog geld kwyt." het Dippenaar gesê.
Sign Pro kom kort
Zaayman se plan om 'n ambulansdiens te begin, het egter 'n ander sakeman op George byna R10 000 gekos. Dean Gilbert van Sign Pro vertel dat Zaayman op Dinsdag 15 Oktober by sy onderneming opgedaag het met 'n Hyundai H1-bussie. "Hy het verduidelik dat hy die bussie as 'n ambulans gaan inrig en dringend die nodige kentekens op die voertuig moet laat aanbring. Daar was reeds noodligte aangebring en ek het my hele dag se produksie gestop om hom tegemoet te kom."
Gilbert sê dat Zaayman in sy kantoor gewag het terwyl daar aan die bussie gewerk is en deurentyd telefoongesprekke met plekke wat mediese toerusting verskaf, gevoer het. Volgens Gilbert het Zaayman belowe om 'n betaling van R3500 per internet te maak, maar die betaling is nooit ontvang nie. "Met die dag se produksie wat ons verloor het en die geld wat Zaayman nie betaal het nie, het ek meer as agtduisend rand verloor." het Gilbert gesê. Daar is verlede week vasgestel dat die Hyundai-bussie een van vyf voertuie was wat Zaayman in Port Elizabeth by twee handelaars gekoop het en ook nie betaal het nie. Die polisie het verlede week op die Hyundai beslag gelê waar dit glo by Zaayman se skoonouers op Oudtshoorn gestaan het.
Pa se geskenk verkwansel
Die Oudtshoorn Courant het ook hierdie week inligting ontvang dat die Nissan Al-mera wat Zaayman vir sy pa Daniël gegee het, reeds aan 'n handelaar in Mosselbaai verkoop is.
Die egpaar is verlede Dinsdag buite Oudtshoorn voorgekeer in nog twee voertuie wat hulle by 'n handelaar in Port Elizabeth gekoop het en ook in George van die hand probeer sit het. Beide voertuie was in Amonique se naam geregistreer, maar die handelaar het geen betalings ontvang nie. Zaayman was in aanhouding sedert sy arrestasie en het Dinsdag in die landdroshof op Oudts-hoorn vir 'n borgaansoek verskyn. Die staat het borg teengestaan aangesien daar nog 11 klagtes ondersoek word en die beweerde bedrag betrokke glo R1,3 miljoen beloop. Op grond van die staat se argumente het die regter borgtog geweier en die saak is uitgestel tot 3 Desember.
Edward Zaayman (met sy rug teen die motor) en sy vrou Amonique (heel links) is verlede Dinsdag buite Oudtshoorn voorgekeer in twee voertuie wat hulle in Port Elizabeth gekoop het en van die hand probeer sit het. Edward is op die toneel in hegtenis geneem op klagtes van bedrog.
ARTIKEL: HANNES VISSER
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'