SUID-KAAP NUUS - SA for Hope reik op Saterdag 26 Februarie vir die soveelste keer uit na boere in nood, hierdie keer in die Klein-Karoo tussen Klaarstroom, Prins Albert en Merweville waar die boere nog bitter swaarkry weens droogte.
Volgens Pieter du Plessis, 'n direkteur van SA for Hope, benodig hulle nog ongeveer 50 bederfboksies/sakke vir boervroue in Valentynsmaand om 'n bietjie lig te bring in hul donkerte.
"Ons het 100 boere- en werkersgesinne vir wie ons kruidenierspakkies, vars groente, water, voerbale en mielies saamneem.
"Ons benodig ook nog fondse om 'n vrag mielies te skuif van KwaZulu-Natal wat 'n boer vir ons daar saam met sy seuns en medeboere gereël het. Vir elke R1 000 wat ons insamel vir vervoer, gee hulle R1 000," sê Du Plessis.
Hulle verwelkom enige verdere skenkings of hulp. Daar is reeds meer as 20 voertuie wat gaan ry, maar hulle benodig nog 'n verdere 15 bakkies om voer te laai wat 'n boer van Ladismith af geskenk het.
Die bale word op die oggend van die uitreik in Oudtshoorn gelaai op pad na die Prins Albert-omgewing. 'n Ma en boervrou van die Prins Albert-omgewing sê in 'n uitroep om hulp dat werkers saam swaartrek, want al die boere moes noodgedwonge sny aan uitgawes.
"Baie het hulle werkers minder gemaak en werkers wat jare lank al saam met boere kom, moes tevrede wees as hulle party maande nie volle salarisse gekry het nie. Dit het nou wel gereën en die veld lyk op die oomblik mooi, maar een maal se reën kan nooit die skade herstel wat hierdie agt jaar droogte aan die veld gedoen het nie.
"Ons moes lammers wegvat van die ooie af omdat hulle nie genoeg melk gehad het nie, so daai lammers moet nog vir ten minste vyf maande op kraal gevoer word. Mense dink omdat dit gereën het, is al ons probleme opgelos. As dit kontant gereën het was dit dalk die geval, maar die skade vat jare om te herstel."
Du Plessis het al die mense wat reeds bygedra of gehelp het, bedank. "Dit is absoluut ongelooflik hoe ons land se mense bymekaarkom en mekaar kan ondersteun. Dit hou ons nederig en trots om 'n Suid-Afrikaner te wees.
Diere moet gevoer word, want die veld het nie genoeg kos nie.
"SA for Hope help ook graag ander organisasies en deur saam te werk ontvang ons ook redelik hulp van hulle af, soos byvoorbeeld van We Are South Africans en The Food Pantry in George. SA for Hope het ook ingespring met die vloede in George en 'n groot verskil gemaak. Ons kon met behulp van die publiek 'n sitkamerstel, slaapkamer- en kombuisbenodigdhede, 'n yskas, kospakkies en baie klere en komberse uitkry. Dankie aan Herman Pienaar van Love George wat ook saam met ons gewerk het."
Mense wat met die uitreik op 26 Februarie wil help of donasies wil gee, kan Du Plessis bel by 076 844 6435.
Nog 'n direkteur van SA for Hope, Kobus Volschenk, sal van 10:00 tot 14:00 op 23, 24 en 25 Februarie weer by Pick n Pay in Vierdelaan staan indien mense wil kos skenk of donasies wil aflaai.
Tavcor George is ook 'n amptelike aflaaipunt vir donasies. Vra vir Christa Barnard.
SA for Hope staan alleen as geregistreerde nie-winsgewende organisasie met registrasienommer 2021/863183.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'