Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Gemengde reaksie is uitgespreek oor die amptelike onthulling van twee bankies by die suidwestelike punt van Victoriabaai waarmee gepoog word om 'n boodskap van hoop op 'n beter toekoms vir almal, uit te stuur.
Op die een bankie is 'n bordjie met 'n aanhaling uit Lucas Maree se liedjie Victoriabaai, asook 'n aanhaling van pres. Nelson Mandela.
Die stempel van goedkeuring is verleen toe Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, dit op Donderdag 18 Maart onthul het.
Volgens een van die betrokkenes en skenker van een van die bankies, André Groenewald, 'n inwoner van Victoriabaai, is dit 'n simbool van hoop op 'n beter toekoms. Die ander bankie is Neil Schalkwyk, nog 'n inwoner van Victoriabaai, geskenk. Hennie Weideman is ook een van die donateurs.
Geleentheid
Die funksie is ook bygewoon deur wyle Maree se suster, René Janse van Vuuren, sy twee dogters en sy kleinkind. Hulle was op uitnodiging daar. In Oktober verlede jaar nog het Janse van Vuuren aan George Herald gesê dat sy en die Maree-familie geen betrokkenheid by huidige of toekomstige projekte oor Lucas Maree by Victoriabaai het nie.
Sover bekend was lede van die opposisie-partye in die distriksraad nie teenwoordig nie. Hulle was wel genooi.
Tydens die geleentheid is musiek van Maree gespeel. Dit is nie ver van waar 'n steen met woorde van 'n liedjie van Maree verlede jaar (2020) op inisiatief van sy familie verwyder is nie.
Booysen het in sy toespraak gesê hy het 'n mandaat van die hele stadsraad en al die partye is bewus van die geleentheid. In die wêreld van vandag is hulle taak om hoop te bring.
Hy het al verskriklike foto's gesien hoe dit daar in die verlede gelyk het. Die stadsraad/munisipaliteit is baie beïndruk met wat hy nou daar sien.
Na die geleentheid het Janse van Vuuren gesê dit is baie spesiaal vir die Maree-familie. Op die vraag waarom sy van standpunt verander het, het sy geantwoord dat voorheen was sy baie getraumatiseerd en emosioneel oor die aangeleentheid. Sy het met Groenewald gesels en hy het haar ingelig oor wat hy gaan doen. Sy wou graag deel daarvan wees. Dit is regtig 'n riem onder die hart.
Fotogalery: Twee nuwe bankies by Victoriabaai
Booysen het later erken dat gegewe die verwydering van kissies met as en gedenkstene verlede jaar, die jongste gebeure 'n presedent kan skep. Hy het bygevoeg as dit mense bymekaar bring hoekom dan nie.
Kyk 3 video's hieronder:
Dit skep 'n presedent
Piet van der Hoven, ANC-hoofsweep in die stadsraad, het by navraag gesê dit skep 'n presedent. Hy was genooi, maar het besluit om nie te gaan nie. "As enige persoon in die vervolg 'n bankie daar wil plaas met 'n aanhaling, sal die burgemeester 'n verpligting hê om dit te onthul.
"Ek het 'n broertjie dood aan diegene wat Nelson Mandela se naam misbruik om hul dade te regverdig."
Wilbur Harris, stadsraadslid van Icosa, het gesê hy was genooi maar kon dit nie bywoon nie. "Ek dra nie kennis van die presiese besonderhede van die geleentheid." Hy het bygevoeg: "Ons moet versigtig wees om nie uitsonderings te maak en 'n bepaalde boodskap te stuur."
Virgill Gericke van die PBI het gesê hy het dit nie bygewoon as gevolg van ander verpligtinge. Hy sal eers meer besonderhede wil bekom en dan later volledig kommentaar lewer.
Motivering van skenking van 'n bankie
Groenewald het in 'n verklaring gemotiveer waarom hy die een bankie geskenk het. Dit lui onder meer dat hy op 4 Augustus 2020 met die distriksmunisipaliteit kontak gemaak het oor 'n voorgestelde "handevatprojek". Die woord HOOP sou 'n kernwoord hierin word en die distriksmunisipaliteit het twee plaatjies "geborg" waarop die hoop en die uitreik deur die munisipaliteit ten toon gestel word.
Hy het benadruk dat die twee bankies met die plaatjies hou geen verband met die gedenktekens en kissies wat vroeër die natuur ontsier het. Dit is 'n simbool van hoop op 'n beter toekoms vir almal. Die bankies was nooit omstrede en is deur "almal" met ope arms ontvang.
Groenewald se vrou, Elizabeth, het vroeër aangedui dat Maree betrek is as gevolg van sy liedjie oor Victoriabaai.
LEES: Executive mayor and stakeholders unveil symbolic benches at Victoria Bay
There was mixed reaction to the official unveiling of two new benches at Victoria Bay which it is hoped will symbolise hope. The benches were donated by residents of Victoria Bay and the function took place under the banner of the Garden Route district municipality. Amongst people attending were Memory Booysen, mayor of the municipality and Rosina Ruiters, deputy mayor.
Vorige artikel: Lucas maree is "terug' by Victoriabaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'