Só het Johan van Wyk, 'n voormalige redakteur van die George Herald, gesê, tydens 'n ontbyt wat gisteroggend deur die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Suid-Kaap tak aangebied is. Die George Herald het die geleentheid geborg. Van Wyk het as gasspreker gesels oor die geskiedenis van George, soos hy dit onthou in sy tyd as redakteur (1966 - 1971).
In sy bobaas storievertelstyl het dié gesoute rubriekskrywer en oudkoerantman staaltjies uit sy eie familiegeskiedenis gedeel. Sy familie se stammoeder het op dertienjarige ouderdom 'n plaasmoord in die Calvinia-omgewing oorleef. Op 80 het sy sowat 2 000 afstammelinge gehad.
Oor George het Van Wyk met heimwee gepraat. Sy liefde vir historiese erfenis en kultuurgeskiedenis het sterk na vore gekom. Hy het die gaste en lede van die GGSA aangemoedig om hulle stemme dik te maak oor die dorp se historiese erfenis. "Moenie toelaat dat 'n paar mense op die raad besluite neem wat George se erfenis vernietig nie," het hy gesê. "Geen historiese geboue in Suid-Afrika is veilig nie. Ek sien bykans niks meer van die oorspronklike George nie."
Van Wyk het tydens die geleentheid met skok verneem dat Saasveldpad se naam bes moontlik ook binnekort gaan verander na Madibarylaan (sien artikel op bl. 4). "Hulle het dit in Bloemfontein ook gedoen," het hy gesê. "Voortrekkerweg, die hoofstraat, is ook na Mandela vernoem. Ek dink hulle doen dit omtrent in elke dorp."
Van Wyk het gemaan teen 'n kultuur van vervlakking, waar mense net belangstel in "brandewyn drink en DStv kyk".
"Baklei vir julle erfenis," het hy gesê.
* Johan van Wyk, former editor of the George Herald (1966-1971), was yesterday morning the guest speaker at the year-end breakfast of the Genealogical Society of South Africa's South Cape branch. He encouraged members and guests to fight for their heritage, saying that there is "not much left of the original George". Van Wyk was shocked to learn about the name change process of Saasveld Road to Madiba Drive.
Klik hier vir fotogalery.
Van links is Abrie de Swardt, voorsitter van die Suid-Kaapse tak van die GGSA, Ilse Schoonraad, redakteur van die George Herald, Johan van Wyk, en Abri de Swardt (junior). Foto's: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'