GEORGE NUUS - As jy besluit om in Suid-Afrika te bly, maak 'n positiewe verskil. Dit was die boodskap van Kobus Wiese, oud-Springbokrugbyspeler en deesdae sakeman en televisieaanbieder, tydens 'n AfriForum en AfriVriendelik geleentheid verlede Vrydag.
Wiese het tydens die geleentheid, wat by Farm&Fellow Guesthouse gehou is, van sy ondervindinge op die sportveld en die sakewêreld gedeel en gewys hoe dit van toepassing kan wees in die alledaagse lewe.
By tye het hy die gehoor laat skaterlag met staaltjies uit die rugbywêreld. Hy was onder meer deel van die Springbokrugbyspan wat in 1995 die wêreldbeker gewen het.
Wiese het benadruk hy is nie 'n politikus nie en hy stel ook nie daarin belang nie. Trouens hy vind politiek eindelik vervelig.
Wiese het gesê mense kan sit en kla en vinger wys. Dit is met reg, want alles in die land is nie reg nie. Hulle kan met reg ongelukkig wees. Hulle moet egter nie sewe dae 'n week kla en ongelukkig wees nie.
Daar is net so baie dinge wat ook positief is. Hy hoop mense bly in die land. Hulle moet 'n positiewe bydrae en 'n verskil maak. "Die vraag is gaan jy en ek die verskil maak. Mense moet dinge maak werk."
Dirk Kotze, (links) onderburgemeester van Mosselbaai saam met Kobus Wiese.
Ouers moet die dieselfde vir hul kinders leer. "Gaan uit en skep werk. Sorg vir jouself en die mense rondom jou. Maak 'n positiewe verskil in die ekonomie van Suid-Afrika sodat die land kan wees wat hy moet wees."
Hy glo onomwonde daar is meer goeie mense in Suid-Afrika as slegte mense. "As jy dit nie glo nie, gaan jy dit vir jouself moeilik maak. Ons het baie potensiaal en ek glo die meerderheid mense wil dit maak werk."
Die land het pas 'n verkiesing agter die rug. Hier is baie probleme, maar ook baie potensiaal. Mense moenie in die stadium vir die regering sit en wag nie. Hulle moet hul eie ding doen en werk skep.
Iets wat hy uit sport geleer het, is dat wat jy insit is, wat jy uitkry. Moet ook nie bang wees om te misluk nie. Dit is deel van die leerproses.
Hy het gewys op die belangrikheid van dissipline. Dit is 'n basiese beginsel. Dinge begin by dissipline. Sonder dit gaan iemand dit nie maak nie.
Die vier D's (in Engels) is belangrik: Dedication (toewyding), Determination (vasberadenheid), Discipline (dissipline) en Desire (passie).
Uit sy eie ondervinding in die sakewêreld is daar dinge wat hy op die harde manier geleer het en belangrik is. Dit is: Goeie diens, goeie kwaliteit en goeie verhoudinge.
Wiese het op 'n positiewe noot afgesluit en gesê niks is onmoontlik nie.
Kobus Wiese (middel) saam met Chanté Kelder en Sandrien van der Walt van AfriForum.
Kobus Wiese, oud-Springbokrugbyspeler en deesdae sakeman en televisieaanbieder, aan die woord by AfriForum en AfriVriendelik se geleentheid. Foto's: Eugene Guinning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'