GEORGE NUUS - Arbeidsbediening Tuinroete se jaarlikse sakeontbyt is verlede week by Victoria Heights gehou waar die voorsitter, ds. Floors Meyer, 'n kort uiteensetting gegee het van hulle werksaamhede.
Hulle doen evangelisasiewerk in die werkplek en is al 40 jaar in die Tuinroete aktief. Tans is daar 12 dienswerkers wat deelnemende besighede weekliks besoek.
Dienswerkers wat uitgestuur word, word deurlopend opgelei en dié wat nuut aansluit, word geakkrediteer ná hul aanvanklike opleiding. Hulle bedien elke maand ongeveer 500 werknemers.
Volgens Meyer is 60% van George se werkersmag - werkgewers en werknemers - na raming nie aan 'n formele kerk verbonde nie. "Vir 'n beduidende getal van dié persone is Arbeidsbediening die enigste kerk wat hulle ken," het hy gesê.
Drie dienswerkers het getuig van die impak van hulle bediening op mense na wie hulle uitreik. Bybels word verskaf waar nodig.
Verder bied Arbeidsbediening die Bright Star Life Skills-program aan wat mense motiveer om hulle werk met integriteit te verrig.
Die bediening het ook 'n program ontwikkel wat help om kinders van gr. 1 tot 3 se leesvermoë te verbeter.
Die gasspreker by die ontbyt, Mike Burnard, is 'n sendingkonsultant en analitiese strateeg by dia-LOGOS, 'n organisasie wat met kerke saamwerk om sendinginisiatiewe te ontwikkel. Sy boodskap aan besigheidseienaars was dat hulle hul besigheid as 'n bediening kan gebruik onder personeel en kliënte.
Deur te belê in sending, kan hul winste ook 'n bediening wees. Hy het voorbeelde gegee waar die bediening, Business as Missions (Bam), in die Midde-Oosterse konteks besigheid as die enigste manier kan gebruik om mense te bereik.
Vir meer inligting oor Arbeidsbediening Tuinroete of om betrokke te raak, kontak ds. Floors Meyer by floors@mweb.co.za.
Joël Plaatjies, 'n dienswerker, aan die woord.
Johan Kleyn, 'n dienswerker, het 'n spesiale boodskap vir die gaste gehad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’