GEORGE NUUS - Die George Erfenistrust is ongelukkig oor die voorgenome sloping van 'n gebou in Courtenaystraat en 'n brief in die verband gaan aan die Wes-Kaapse Erfenisraad gestuur word. Die gebou is oorkant Hoërskool Outeniqua.
'n Leser het verlede week in 'n sterk bewoorde brief aan die George Herald geskryf dat die nuus bekend gemaak is dat die gebou gesloop gaan word om plek te maak vir iets nuuts.
Volgens die leser het die gebou vir lank 'n bekende selfoonmaatskappy gehuisves en staan tans leeg en dat dit betreurenswaardig is dat die Wes-Kaapse Erfenisraad nie die verandering/sloping teengestaan het nie.
Die Wes-Kaapse Erfenisraad het reeds verlede week by navraag aan die George Herald gesê 'n aansoek vir sloping is tydens 'n vergadering van 'n komitee van die raad op 27 Augustus oorweeg.
Konsultasie vir die aansoek het plaasgevind. 'n Permit vir die sloping is wel uitgereik omdat die Wes-Kaapse Erfenisraad glo die gebou het geen erfenis waarde nie.
Tydens 'n vergadering van die George Erfenistrust verlede Donderdag, 24 Oktober wat by die George-museum gehou is, het die vermelde brief ter sprake gekom. 'n Lewendige bespreking het gevolg en verskillende standpunte is gestel.
Die George Erfenistrust se vergadering verlede Donderdag by die George-museum. Foto: Eugene Gunning
Van die aanwesiges wou onder meer weet wat se gesag het die komitee van die Erfenisraad om die besluit te kon neem. Daar is ook gevra waarom die George Erfenistrust nie in die saak geken is nie.
Henry Paine, voorsitter van die George Erfenistrust, het Dinsdag gesê die brief word geskryf om die instansie se ongelukkigheid aan te dui.
Hy het benadruk dit is nie 'n eenvoudige aangeleentheid nie. Sy persoonlike standpunt is dat die gebou behoue moet bly.
Lees nog 'n brief ten gunste van die sloping.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'