GEORGE NUUS - Antoinette Swart van George ken nie van stilsit nie, sy het Maandag 13 Desember die graad PhD in antieke kulture by die Universiteit Stellenbosch Konservatorium op 83-jarige ouderdom ontvang.
Sy het al die afgelope 20 tot 30 jaar 'n belangstelling in die antieke geskiedenis. In die verlede het sy nooit die geleentheid gehad om dieper daarin te studeer nie, maar so ses, sewe jaar gelede het alles verander. Sy het ook 'n groot belangstelling in kuns gehad.
"My dogter Karin Swanepoel-hulle het in Iran gewoon en in 2013 het ons by hulle gaan kuier," het sy aan George Herald vertel. Terwyl hulle daar was het hulle onder meer Persepolis (die antieke seremoniële hoofstad van die Achaemenidiese Ryk) besoek.
In 2014 het sy weer die plek besoek en toe saam met 'n toergroep van Unisa. Sy het 'n hele ruk alleen daar met haar kamera gesit. Dit was op sigself buitengewoon, omdat vroue in dié land nie toegelaat word om so op hul eie in die openbaar te sit nie. "Dit het iets in my kop laat losspring. Die ding het in my kop ontkiem. Dis waar alles begin het."
Volgens haar is haar leuse "carpe diem" en glo sy 'n mens moet elke geleentheid "na die beste van jou vermoë" aangryp. Dit verg tyd en deursettingsvermoë, maar die beloning is ewigdurend. "As 'n dag verby is, is dit vir altyd verby."
Kleindogter en ouma wat beide met doktersgrade kan spog. Elanij (links) en Antoinette Swart.
Haar advies aan jongmense is om vas te byt en deur te druk - veral in die moeilike tye. As mens die geleentheid kry om te gaan studeer, benut dit.
Swart se eggenoot, Kobus leef nog. Die egpaar het drie kinders, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Sy is juis baie trots op haar een kleinkind, Elanij wat net 'n paar dae gelede haar PhD in Bybelse argeologie aan Unisa verwerf het.
Swart geniet nog goeie gesondheid. Sy is baie lief vir lees en klassieke musiek. "Nou kan ek weer lees sonder om skuldig te voel," het sy vertel.
Elanij, wat haar ouma na die gradeplegtigheid in Stellenbosch vergesel het, het gesê die familie is baie trots op haar. "Ouma moes hard werk en vasbyt om dit te kon doen."
Die lang pad van Antoinette Swart
Sy het op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes gematrikuleer. Sy het altyd daarvan gedroom om eendag op Stellenbosch te gaan studeer. Dit was te danke aan al die stories wat haar pa, 'n oud-Matie, gedurende haar kinderjare vertel het, luidens 'n verklaring van die US.
In 1957 het sy haar eerste graad aan die US behaal toe sy 'n BSc (plant- en dierkunde) ontvang het. Hierna volg 'n BSc-honneurs (cum laude) in plantkunde in 1958 en 'n MSc (plantkunde) in 1960. In 2011 behaal sy 'n BPhil-graad in Bybelinterpretasie en in 2013, op 75-jarige ouderdom, haar MPhil in Bybelinterpretasie (cum laude). Sy het ook twee nagraadse diplomas in onderskeidelik biblioteekkunde en hoëronderwys van Unisa.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'