GEORGE NUUS - Die Tuinroete DBV sal enigiets in hul vermoë doen om ‘n dier se lewe te red, selfs in ‘n drein klim.
En dit is presies wat Verdi Alaart van die DBV gedoen het.
Hy vertel hulle is verlede week uitgeroep na ‘n geval in Pacaltsdorp waar ‘n hondjie in ‘n mangat geval het.
Volgens Alaart het die familie per ongeluk hul hekkie oopgelos en die klein hondjie het besluit om buite te gaan rondsnuffel. “Hy het te naby aan die opening teen die sypaadjie geloop en daar ingegly. Ons het alles probeer om hom uit te kry, maar ek moes later maar self inklim.”
Alaart sê dis sy twee redding van ‘n dier vandat hy by die DBV aangesluit het. Hy vertel dis sy absolute passie. “Natuur is my liefde,” sê hy.
“Ek het met ‘n flitslig in die mangat geklim en die hondjie probeer nader roep wat toe baie bang begin blaf en rondstap het. Hy het my stem gehoor en nader genoeg gekom dat ek hom kon vasvat en uitkry.”
Alaart sê die familie was baie dankbaar en het hom weer agterna bedank. Vir hom was dit deel van sy werk, al het hy agterna ’n effense reukie gehad.
Niks is te veel vir diere nie!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'