Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Afrikadag is vanjaar met 'n groot gejuig by Hoërskool Pacaltsdorp gevier.
Die graadhoof vir geskiedenis, Carol Kaboni, en haar kollega Gavin Constance het daarin geslaag om een van die land se bekendste vryheidsvegters, prof. Allan Boesak, as gasspreker by die skool te ontvang.
Ofskoon Afrikadag op 25 Mei gevier is, het die skool hierdie spesiale dag Vrydag 26 Mei met mening gevier.
Boesak het die leerders geboei met staaltjies uit die verlede. Sy betrokkenheid by Suid-Afrika se vryheidstryd het in 1976 begin, met 'n leidende rol in versetpolitiek in Suid-Afrika.
In 1983 is die United Democratic Front (UDF) in die lewe geroep - 'n versetbeweging wat onder Boesak se leierskap sou groei tot die grootste nie-gewelddadige, nie-rassige anti-apartheidsformasie in die geskiedenis van die vryheidstryd.
Boesak het vir die kinders oor die herkoms van Afrikaans vertel. "Slawe het 'n taal ontwikkel sodat hulle met mekaar kon gesels," het hy gesê. "Dit het onder meer bestaan uit Hollandse, Maleisiese en Indonesiese woorde. Die eerste boek wat in Afrikaans geskryf is, is deur 'n Moslem geskryf. Dit was 'n vertaling van die Koran."
FOTOGALERY: Allan Boesak besoek Hoërskool Pacaltsdorp vir Afrikadag-vieringe
Boesak het gepraat oor die dae toe die UDF na Pacaltsdorp geneem is, en die rol wat die jong mense in die beweging gespeel het. Hy het vir die kinders gesê hulle moet nie hulle eie mag en herkoms onderskat nie.
"Don't waste this moment. Don't let anybody tell you who you are. Don't let anybody tell you you are not an African. Sê jy vir Cyril Ramaphosa, Allan Boesak sê: 'Ek is 'n African.' This is your country, your people, your school, your moment."
Twee van Hoërskool Pacaltsdorp se grootste donateurs en oudleerders van die skool, Fred Arendse en Warren Addams, het na die afloop van Boesak se toespraak 'n donasie van R20 000 aan die skool oorhandig.
VIDEO: Allan Boesak besoek Hoërskool Pacaltsdorp
Die enorme tjek is deur die skoolhoof omhoog gehou, terwyl die kinders in ekstase gejuig het.
Matriekleerders wat geskiedenis as vak neem het later die oggend 'n geleentheid gekry om 'n tweede praatjie deur Boesak by te woon. Leerders van Hoërskool Heatherlands, George High, Hoërskool Parkdene en drie skole van Oudtshoorn, het die geleentheid bygewoon.
Skoolhoof Clifton Titus hou 'n tjek van R20 000 omhoog - 'n donasie vir die skool van twee borge, die sakemanne Warren Adams en Fred Arendse.
Matriekleerders van Hoërskool Môrester in Oudtshoorn is Mariska Bruintjies, Beauné Brown, Felicia de Silva, Esmé Hoffman en Philreeq Korkee. Agter is Reza Willeman, Sue-Anay Tities en Angelo Goliath. Foto: Michelle Pienaar
Graadelf dogters wag in spanning vir prof. Allan Boesak se praatjie. In die groep is Shaydene Lucas, Katelyn April, Mishaan Jantjies, Iviwe Vena, Nineo Jantjies, Levinia Adam en Edwylene Sauer. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’