GEORGE NUUS - Twee 24-jarige mans van George, wat verlede week in hegtenis geneem is, kort nadat minstens 19 huise op Reebok deur albasters beskadig is, is intussen op 'n waarskuwing om weer in die Groot-Brakrivier-landdroshof te verskyn, vrygelaat.
Die eerste voorval is op Maandag 25 Julie om ongeveer 22:00 by die Midbrak-buurtwag aangemeld.
Die polisie in Groot-Brakrivier het hulle hande vol gehad en privaat sekuriteits-firmas het gehelp om die gebied te patrolleer.
Teen 03:00 Dinsdagoggend, 26 Julie, is die laaste voorval aangemeld.
Volgens die Groot-Brakrivier polisie-skakelbeampte, sers. Lauriane Botha, is verskeie sake van kwaadwillige saakbeskadiging ná die voorval aanhangig gemaak.
Die albasters is na bewering met 'n kettie geskiet.
Botha sê die verdagtes sal later die maand weer in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn. Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'