Update
GEORGE NUUS - "Sal ek ooit weer kan netbal speel?" was Dejané de Bruin (12) se eerste vraag aan die dokter ná sy verlede maand weens transverse myelitis (TM) beweging in haar bene verloor het.
TM is 'n neurologiese toestand wat wêreldwyd sowat 1 400 mense per jaar affekteer. Dejané is op 1 November daarmee gediagnoseer.
Dejané het op 28 Oktober beheer oor haar bene verloor. "Sy het buite gespeel, ingekom en gekla van rugpyn. Sy het op die bed gaan lê, aandete kom eet en gaan stort, toe sak sy inmekaar en kon nie loop nie," vertel haar ma, Delanie.
Delanie en haar man, Jacques, het hul enigste dogter dadelik ongevalle toe geneem waar onder andere bloedtoetse, 'n lendesteek en X-strale, gedoen is.
Aanvanklik is sy met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer, maar 'n tweede MRB-skandering (MRI) het getoon dat sy aan TM ly.
Meer oor transverse myelitis
Die toestand word veroorsaak deur inflammasie van die rugmurg wat die miëlienskede, die bedekking rondom die senuweeselle in jou rugmurg beskadig. Dit onderbreek die seine tussen die spinale senuwees en die res van die liggaam en kan lei tot verlies van sensasie, beweging en blaasbeheer.
Dejané is reeds van haar heupe af ondertoe verlam en is onlangs na die Aurora rehabilitasie-hospitaal in Gqeberha oorgeplaas waar sy verbete veg teen dié baie seldsame siekte.
Sowat 'n derde van mense wat met TM gediagnoseer word herstel, máár dit kan maande tot jare neem.
"In dié stadium vat ons dit week vir week. Die dokter het gesê ons moet regmaak vir so twee tot drie maande in die rehabilitasiesentrum, maar dit kan verander afhangende van hoe vinnig sy als alleen kan begin doen," sê Delanie.
Volgens haar is Dejané baie positief onder omstandighede, maar die realiteit eis tog sy tol.
"Sy is 'n borrelende, spontane mens wat uit haar maag kan lag, maar ek kan in die gesiggie sien as iets nie lekker is nie. As ek vra wat fout is, sê sy dat sy wens haar bene wil weer begin werk. Dis moeilik vir haar, want sy is absoluut versot op netbal - sy speel doel," sê Delanie.
Dejané de Bruin veg verbete teen dié baie seldsame siekte.
BackaBuddy
'n Familievriend van die De Bruins, Angelique Botha, het vir Dejané 'n BackaBuddy-rekening oopgemaak met die doel om die kostes wat nie deur die medies gedek word nie, te kan verhaal.
"Daar is nog 'n lang, moeilike pad wat vir Dejané en haar ouers voorlê. Die medies is maar soms moeilik en daar is baie items en rekeninge wat nie ten volle gedek word nie. Ons het dus vir hulle 'n BackaBuddy-rekening oopgemaak om te help om die pad vorentoe 'n bietjie makliker te maak," sê Botha.
Enigiemand wat wil bydra is welkom om die QR-kode met hul selfoon te skandeer, of gaan na bit.ly/3gFe2bD.
Vorige artikel: Young girl fights rare neurological disease
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'