Dit blyk dat ondergrondse, septiese tenks oorvol geraak het en teen Sondagmiddag het dit begin oorloop. Strandgangers het koes-koes geloop om die stinkende rioolwater wat uit die mangat in die see ingestroom het, mis te trap.
Inwoners soos Colin Horn en Marius en Petro van Huyssteen het hulle misnoeë te kenne gegee. "Victoriabaai verdien om in 'n beter toestand as dit te wees. Strenger wetstoepassing, groter sigbaarheid en 'n voltydse bestuurder wat oor naweke aan diens is, is noodsaaklik. Gedurende die Desembervakansie is skarebeheer sowel as infrastruktuur wat die volumes kan hanteer nodig."
Verskeie lede van die publiek het gemor oor mense wat openlik in die parkeerarea gestaan en drink het. Seuns het ook in die water voetbal gespeel, die badkamers was onnet en groepies jong mans het die strandgebied 'gepatrolleer' en mense onveilig laat voel. Die publiek het egter die teenwoordigheid van twee vroue wetstoepassers van die George-munisipaliteit wat mense bewus gemaak het van die drankverbod, verwelkom.
Horn het die George-munisipaliteit in kennis gestel van die riool-lek en 'n uur later was die brandweer daar. "Ek weet nie wie op die ou end die probleem hanteer het nie, maar alle riool van die Seabreeze-oord, en laer af in Victoriabaai, vanaf die restaurant en openbare geriewe hoop op en stoot terug. Dit raak te veel vir die tenks. Daar moet meer gereeld riool-trokke gestuur word om die riool uit te suig. Rod Hossack (bekende Victoriabaai inwoner) is gedurig in gesprek met die George-munisipaliteit oor die soort kwessies asook die onderhoud by die openbare geriewe. Die situasie Sondag was gewis 'n gesondheidsrisiko."
Harold Basson, hoof van George siviele ingenieurswese, het verduidelik wat gebeur het: "Die probleem hou verband met 'n rioolpompstasie wat foutief geraak het. Bystandpersoneel het onmiddellik opgetree. Die rioolstorting is opgeruim om 'n moontlike gesondheidsgevaar te voorkom. Tydens die seisoen word voorsiening gemaak vir die addi-sionele las op die stelsel. Ongelukkig kan elektriese of meganiese probleme nie ten volle voorkom word nie. Die munisipaliteit tref egter die nodige maatreëls om bystandperso-neel 24 uur, sewe dae 'n week gereed te hê. Dit is weer Sondag bewys toe daar vinnig en effektief opgetree is."
Die pomp is Sondag herstel.
* When the sewage tanks near the ablution block at Victoria Bay overflowed onto the beach on Sunday afternoon, the George Municipality's emergency services were there within the hour to neutralise the sewage and fix the pumps that were faulty. Residents of the bay said more needs to be done for safety, crowd control and sanitation at the bay. Crowd control over the peak season is imperative and sanitation measures should be adequate to cope, said homeowners Colin Horn and Marius and Petro Van Huyssteen, who feel that the municipalities (Eden and George) are letting them down.

Petro en Marius van Huyssteen voel die plaaslike munisipaliteite kan beter na Victoriabaai kyk. Om by hul naweekhuis te wees terwyl die rioolwater 'n paar tree verder in die see inloop is nie hulle idee van eerste wêreld standaarde nie. Fotos: Pauline Lourens
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'