GEORGE NUUS - Blanco-rugbyklub, wat tans vyfde op die SWD Superliga A punteleer lê met 36 punte, veg die komende naweek vir 'n plek in die topvier. Bridgton lê net bo Blanco in vierde plek ook met 36 punte.
Bridgton se punteverskil van 60 plaas hulle egter in 'n beter posisie bo Blanco met 33 punte.
Blanco is Saterdag gasheer in die Gaatjie vir Groot-Brak (1ste) wat nog net drie wedstryde die seisoen verloor het. Blanco se hoofafrigter, Christo du Plessis, sê hulle maak reg vir 'n taai wedstryd.
"Hulle is 'n goed afgerigte span met 'n goeie groep ervare spelers en baie effektief in die uitvoering van hul plan. As ons wel ons foute kan beperk het ons 'n kans in die wedstryd. Ek is baie trots op ons spelers wat die seisoen enorme groei getoon het," sê Du Plessis.
Bridgton speel teen Barbarians (2de) in Oudtshoorn en sal mik om na die naweek bo Heidelberg (3de) te eindig. Die hoofafrigter van Bridgton, Eddie Myners, sê hulle beskou hierdie wedstryd as 'n kruispad in die seisoen en benader dit as 'n kwarteindstryd wat hulle moet wen.
"Ons maak onsself reg vir 'n klipharde wedstryd teen 'n baie goeie span wat ons weet ons op alle vlakke gaan toets," sê Myners.
Hy voeg by dat Bridgton besef hulle het hul ondersteuners teleurgestel met hul laaste drie vertonings - almal verlore - en hoop om hulle die naweek trots te maak met 'n wen en op dreef te bly om vir die halfeindronde te kwalifiseer.
Aan die onderkant van die puntestand speel Crusaders (8ste) teen Progress (7de) in Parkdene in 'n geveg om nie laaste te eindig nie. Dan sal Heidelberg (3de) hul posisie in die topvier verdedig in 'n wegwedstryd teen George (6de) in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’