GEORGE NUUS - Laerskool Vorentoe, Blanco en George-Suid is tydens die AfriForum #AnkerdorpPadskou in George besoek.
Die veldtog is ook heel gepas tydens Nasionale Kinderbeskermingsweek. Leandie Bräsler, koördineerder: Leierskapsontwikkeling, sê die teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in, asook hoe hulle hulself op die skoolterrein kan beveilig.
Sy sê dit is vir AfriForum belangrik om saam met skole te werk om ’n verskil te maak om afknouery in skole hok te slaan.
"Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die kennis toegerus om afknouery te stop. Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan, asook om ingelig te wees oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n boelievoorval bevind."
Die doel van hierdie veldtog is om leerders bewus te maak dat hulle moet opstaan as leiers deur ‘nee’ te sê vir enige vorm van boeliegedrag, om op te staan vir wat reg is en om ’n verskil in hul skool en gemeenskap te maak, het Bräsler gesê.
Gerhard Ackerman, hoof van Laerskool Blanco sê: "Afknouery is iets waarmee almal van ons op een of ander stadium van ons lewe mee te doen kry. AfriForum se verduideliking van wat afknouery is en hoe om dit te hanteer, was verstaanbaar vir elke leerder. Ek glo elkeen het baie daarby gebaat, aangesien afknouery deesdae ’n gonswoord geword het."
Hy sê by Laerskool Blanco is die bekamping van boeliegedrag vir hulle uiters belangrik.
“Ons as Laerskool Vorentoe is dankbaar vir AfriForum se aanbieding oor boeliegedrag. Boeliegedrag is aktueel en ek glo elkeen het baie daarby gebaat. Dit was wonderlik om Matteus ook by ons skool te kon hê.
"Die aanbieding was vars en ons het baie gehou van die video en die verwysing na die Bybel-gedeelte. Ons is ’n Christen-waardegedrewe skool en dus was die manier van die aanbieding in die kol,” sê Schalk Theron, hoof van Laerskool Vorentoe.
Matteus en Amé Strydom van Laerskool Blanco.
Sonje Miles, onderwyser van Laerskool George-Suid, sê hul skool is enig in sy soort en glo daarin om voorlopers in die gemeenskap te wees.
"Vooruitgang, geanker in ’n gevestigde waardestelsel, is belangrik om werklik ’n verskil in kinders se lewens te maak. Ons ses waardes is betroubaarheid, respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, omgee en goeie burgerskap. Boeliebewusmaking is dus belangrik sodat leerders mekaar met respek kan behandel en kan omgee vir mekaar. AfriForum se teenboeliepraatjie is vir ons gr.7-leerders aangebied en dit was presies op hul ouderdom gemik – hoe hulle ook hulself kan gereedmaak vir boelies in die hoërskool en hoe hulle dit kan beveg.”
Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'