GEORGE NUUS - Hulle mag afgetree wees en nie meer so fiks nie, maar vir die Curlewisse van Genevafontein-aftreeoord is daar nie 'n ledige oomblik nie.
Johnny en Annatjie, albei afgetrede onderwysers oorspronklik van Middelburg, Mpumalanga, is die een so vlytig soos die ander en hulle hou hulle so saam-saam besig - Johnny met naaldwerk en Annatjie met brei.
Johnny se hande, wat gewoond is aan houtwerk, boer én bak, maak deesdae kinderrokkies kompleet met kant, plooitjies en strikke.
Sedert hy ná sy aftrede in 2019 by sy vrou leer naaldwerk doen het, het hy al 1 850 kinderrokke gemaak, oor die 200 lappieskombersies, 'n klompie plekmatjies vir die etenstafel en handsakke.
Die ewe handige Annatjie het al ongeveer 400 kindertruitjies gebrei. Alles wat hulle skep, word weggegee aan kindersorgsentrums. Elke keer as Johnny 50 rokkies gee, gee Annatjie 10 truie.
Johnny doen wat hy aanpak met oorgawe, so toe hy begin het met naaldwerk, het hy sy eie splinternuwe naaimasjiene gekoop, want Annatjie se ou model was nie goed genoeg nie.
Annatjie sê sy is 'n kwaai juffrou. "Hy moet lostrek as hy nie reg werk nie. Hy is goed met ritse insit. Hy doen dit beter as baie vroue."
Die kombersies word gemaak van die rokke se afvallap en dis Annatjie se werk om dit in blokkies te sny - tot 'n duisend per dag wanneer hulle die slag met 'n lot begin.
Johnny gebruik drie verskillende patrone vir elke lot van 50 rokkies wat hy maak. Hy werk stelselmatig van 'n kant af deur 150 rokspatrone. Hy het al 1 850 rokkies gemaak waarvan 1 800 al aan kindersorgsentrums gegee is.
Terwyl die twee nog in die onderwys was, het hulle op die skool se plaas gewoon waar hy die skoolboerdery gevestig het vir die aanbied van landbou as 'n vak. Hier het hy sy eie houtwerkmasjiene kon aanhou in 'n werkswinkel waar hy houtmeubels gemaak het. Drie groot tafels wat hy gemaak het, pryk in hulle huis.
Die man is ook 'n kranige koek- en beskuitbakker, in groot maat. Sy pasgemaakte beskuitdroër het saam Genevafontein toe getrek, maar deesdae bak hy net vir die kinders en kleinkinders. Hy kook ook konfyt en het 'n maand gelede geleer hekel!
Die egpaar het George toe getrek om nader aan hulle sorgsame dogter, dr. Berlize Curlewis, te wees wat 'n paar jaar gelede saam met haar gesin van Middelburg af hierheen verhuis het.
Annatjie en Johnny het toevallig op hulle huweliksherdenking by Genevafontein ingetrek. "Dit was spesiaal, want ons het op dié dag 'n nuwe fase van ons lewens ingegaan, net soos 50 jaar gelede toe ons op 22 September 1973 getroud is."
Donasies van afvallap
Die rokmateriaal wat Johnny tot dusver gebruik het, was massa rolle wat hy op 'n groot uitverkoping by 'n materiaalwinkel in Middelburg gekoop het. Dis egter nou feitlik opgebruik en hy sal donasies van ongebruikte afvallap waardeer, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
Persone wat materiaal vir 'n goeie doel wil skenk, kan Johnny bel by 083 461 0013.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’