GEORGE NUUS - George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê afgemerkte areas word tans in die George-begraafplaas voorberei met paaie wat die onderskeie blokke skei.
"Die blokke sal aan die onderskeie ondernemers in George toegestaan word soos benodig. Die hoe en waar families verkies om hulle geliefdes ter ruste te lê, is 'n uiters sensitiewe saak en enige derde party betrokke behoort slegs in 'n raadgewende kapasiteit op te tree.
"Die finale besluit behoort steeds die prerogatief te bly van die naasbestaandes van die oorledene. Sou die pandemie dimensies aanneem wat die voorsiening van massagrafte vereis, is 'n perseel spesifiek vir Covid-19-sterftes geredelik beskikbaar."
Sy sê ondernemers se aktiwiteite word deur die munisipale bywet op begraafplase en krematoriums gereguleer asook deur nasionale omgewingsgesondheidsregulasies.
"Daar is ook nasionale omgewingsgesondheidsriglyne in plek vir die hantering van Covid-19-oorskot soos uitgegee in Maart 2020 ingevolge die rampregulasies wat vir die Covid-19-pandemie gepubliseer is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'