Gallery
GEORGE NUUS - Adam Koen (76), enigste oorlewende stigterslid van die George-ovaalbaanklub, het as kind met kruiwa- en ploegwiele kaskarre gebou en in die stofpad in Herold, waar hy grootgeword het, reeds gejaag.
Sy inisiatief het in die 1970's die fondasie vir die klub gelê en hy het sy lewe lank nou betrokke gebly. Toe hy nie meer self gejaag het nie, was hy die kommentator, 'n rol wat hy tot in 2023 vervul het.
In sy jong dae was daar 'n hele klompie petrolkoppe in George.
"Ek het begin voel dis hoogtyd dat ons 'n klub begin. Toe ek my gedagtes een dag met wyle Tinie Jonk van TG Motors deel, het hy net geantwoord, 'Maar begin een!'."
Koen het 'n klein advertensie in die destydse Het Suid Western [vandag George Herald] geplaas om belangstellendes te nooi om by die Hawthorndene Hotel bymekaar te kom.
Dit was die begin van 'n lang reis waartydens die klub van plek tot plek moes trek voordat hulle by vandag se George-skouterrein 'n permanente tuiste gevind het.
FOTOGALERY: Die begindae van ovaalbaanrenne in George.
"Dit was partykeer 'n moeilike pad. Ons moes 'n paar keer van voor af begin en elke keer moes ons 'n nuwe baan bou. Die eerste baan was by die ou skouterrein wat oorkant Paddagat geleë was," vertel Koen.
"Die manne was maar rof, net soos die karre wat hulle gebou het. Toe het jy 'n harde buffer vooraan jou kar gehad en kon jy 'n ander ou so 'n bietjie van agter af tik."
Koen het aanvanklik met 'n 1956 Ford gejaag wat later byna uitmekaar geval het. "Ek het die enjinkap sommer met draad vasgemaak, wat eintlik gevaarlik was. Die sport was nog nie gereguleer soos vandag waar dit onder Motorsport Suid-Afrika val nie," gesels hy.
V8 Studebaker Lark
Die klub is uiteindelik die skouterrein belet ná 'n voorval met 'n jaer wat self 'n dryfas vir sy V8 Studebaker Lark gemaak het.
"Die pyp wat hy gebruik het, was te swak en toe hy begin jaag en hy gee bietjie vet, breek daai pyp en slaan die vloerplaat op dat sy kop teen die dak vasdruk.
"Die kar het reg op 'n klein pawiljoen afgepyl en jy het net gesien hoe die toeskouers uitmekaarspat."
Hulle ryery is net daar gestop.
"Ons het daarna 'n perseel in Sandkraalweg te huur gekry en daar 'n baan rondom 'n dam gebou. Twee of drie jaar later wou die eienaar daar bou en ons het getrek na Heiderand in Mosselbaai waar die munisipaliteit 'n stuk grond beskikbaar gestel het. Maar die jaers was nie gelukkig daar nie."
Kort voor lank het 'n boer in Glentana toestemming gegee dat hulle 'n baan op sy plaas kon bou.
Hulle het 'n padskraper by die Du Toits, boere van anderkant die berg, geleen en dit oor die Montagupas tot in Glentana gery om die baan te gaan skraap.
Hy onthou met genot hoe toeskouers hulle braais gebring en kom braai het op 'n Saterdagmiddag wanneer hulle gejaag het.
"'n Bus het ook die soldoedies van die eertydse Vroueleërkollege gebring om te kom kyk. Maar die plaas is verkoop en ons was weer sonder 'n plek."
Weereens moes hulle 'n baan bou - hierdie keer was dit langs die treinspoor net onder die Pacaltsdorp-brug verby (aan die westekant).
Hulle het nie geld gehad nie. Die heining om die baan het hulle met ou gebuigde plaatrelings gebou. "Ons het met 'n groot vragmotor oor die plate gery om hulle weer plat te kry sodat ons hulle kon opsit," lag hy.
Toegangsgeld tot die wedrenne was R5. 'n Klein kiosk is ook opgerig waar koeldrank en eetgoed verkoop is. Koen se vrou, Johanna, het dit beman.
'n Parade voor die wegspring op die baan naby die Pacaltsdorp-brug.
In die ou dae, wanneer 'n wedren gehou is, het Koen aan die begin van die naweek met sy blou Fiat 600 deur George se strate gery met twee luidsprekers op die dak om dit aan te kondig.
Van die perseel onder die Pacaltsdorp-brug af het die klub na die huidige skouterrein getrek om dit hulle permanente tuiste te maak.
Die klub het 'n SA kampioen in die 2,1 liter-klas opgelewer in die gedaante van Neels van Rooyen, alias 'Mad Max'.
Koen sê as hy sy lewe kan oor hê, sal hy sy vrye tyd weer aan dié sport spandeer. "Dit was baie goeie dae."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’