GEORGE NUUS - Om neer te pen wat jy ervaar in die wêreld rondom jou, kan nie maklik wees nie, maar Abigail Christians van Le Vallia, sê sy doen dit deur God se genade.
Haar eerste boek, Veertig Vrugte, bevat 50 gedigte en deel in die warmte van emosies - soos om lief te hê tot en met die koue hand van die dood, die hartseer van 'n kind; die worstelstryd met depressie; die emosionele sterkte van 'n vrou; sowel as 'n boodskap vir Suid-Afrika.
Dit is alles wat Abigail, nou 46, in haar eie lewe moes deurgaan om daarvan te kan getuig. Haar verhouding met God is reeds vroeg gevorm en sterk gebou deur haar ouers se voorbeeld. Sy meen dit is daardie voorbeeld wat sy kon oordra aan haar eie kinders.
Sy sê die boek het in 2016/2017 die lig gesien en sy is al reeds besig met 'n tweede boek, Tuiswaarts, en selfs 'n derde projek wat uit Engelse gedigte bestaan. Sy hoop die digbundel bring 'n boodskap en dat ieder en elk daarby kan baat.
Abigail se digbundel, Veertig Vrugte is tans beskikbaar by Sela Uitgewers.
Dié kind van God sê haar verhouding met Jesus was op 'n stadium in haar lewe agtergelaat, en moes sy weer die bande optel en daaraan werk. Dus toe sy begin skryf het aan die gedigte, het die woorde soos die stem van God na haar gekom.
"As jy stil word en bid oor 'n ding en jou verhouding met God goed is, sal jy Sy stem ken," meen sy.
Abigail is ook 'n ma en vrou en doen alles omdat sy die ondersteuning van haar familie geniet.
"Hulle ken my as 'n stil persoon, so hulle gun my stilte as ek dit nodig het veral om te skryf."
Haar gunsteling gedig in die boek, Arendsvlerke, het besondere betekenis vir Abigail. Soos baie mense was sy nes die arend in haar gedig, op 'n tyd broos en het haar vere uitgetrek, en moes sy geduldig wag dat dit weer teruggroei, sodat sy die verlede kon afskud en haar vlerke toespits op die toekoms.
Sy hoop Veertig Vrugte sal hoop bring in 'n tyd waar baie mense al so baie verloor het, en dat hulle die negatiewe stemme sal uitblok om net die stem van God te hoor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'