GEORGE NUUS - Conville-polisie het verlede naweek vier verdagtes in twee afsonderlike moordvoorvalle in dié omgewing vasgetrek.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, is lede van die Eden-groepsgebied se misdaad-voorkomingseenheid op Saterdag 24 April na 'n toneel in Sardienstraat, Maraiskamp, uitgestuur.
"Met hulle aankoms omstreeks 21:40 het hulle 'n man met 'n steekwond aan sy bors aangetref. Die slagoffer, Luciano Veldman (27) is later deur paramedici op die toneel dood verklaar," sê Spies.
'n 32-jarige verdagte is kort daarna in die gebied in hegtenis geneem.
In 'n onverwante voorval is drie verdagtes in verband met nog 'n moord in die Conville-polisiëringsgebied vasgetrek na die liggaam van Jandré Abrahams (27) in Golfstraat, Parkdene, aangetref is.
"Die lede is Sondag 25 April omstreeks 17:40 na 'n voorval ontbied waar 'n man [Abrahams] na bewering aangerand is. Die man is na die hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het. Drie verdagtes, van 20, 24 en 26 jaar oud, is intussen in hegtenis geneem," sê Spies.
Al vier verdagtes in die twee voorvalle was geskeduleer om Woensdag 28 April, in die hof te verskyn.
Teen druktyd was geen besonderhede rakende hul hofverskynings beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'