GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie het hul hande vol met ‘n vlaag moorde wat afgelope 24 uur in die woonbuurt plaasgevind het.
Drie jong mans is sedert gistermiddag in afsonderlike voorvalle wreed met skerp voorwerpe aangeval en nog een is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal.
Die oorledenes en die beseerde het ernstige hoofbeserings en steekwonde opgedoen en is met gapende wonde aan hul kop op die onderskeie tonele aangetref.
Die polisie het teen vanoggend reeds agt verdagtes aangekeer in verband met die aanvalle.
In die eerste voorval gistermiddag (1 Desember) voor 14:00 is die 37-jarige Graham Fielies in New Dawn Park aangeval. Hy het oop wonde aan sy kop gehad en het gisteraand voor 18:00 in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Vyf mans is in verband met die moord op Fielies aangekeer. Die motief vir die aanval op Fielies word ondersoek.
In Rosedale is twee jong mans sedert middernag vermoor en nog een beseer.
In Lotzstraat is ‘n 18-jarige man se lyk met oop wonde aan sy gesig en nek in die pad gevind. Hy is vermoedelik met ‘n skerp voorwerp gesteek en het ‘n gapende wond links van sy gesig tot by sy nek gehad.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat een persoon vir die moord in Lotzstraat aangekeer is.
Vanoggend 07:30 is nog ‘n man (22) se lyk in Genesisstraat gevind. Hy het verskeie oop wonde aan sy kop gehad.
Nog ‘n man is tans in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy omstreeks 6:30, ook naby Genenisstraat, aangeval is. Twee verdagtes is aangekeer vir die voorvalle in en naby Genenisstraat. Die oorledene en beseerde is volgens inligting met pikstele en pangas aangeval.
Pojie se hulle ondersoek die moontlikheid dat die voorvalle in Rosedale met mekaar verband hou en dat die voorvalle vanoggend (2 Desember) uit weerwraak op die Lotzstraat-moord is. “Ons het goeie leidrade wat ons tans opvolg met getuies. Ons versoek egter steeds dat persone met inligting kapt. H Ben skakel by 044 803 9134.”
* Die George Herald verneem dat nog ‘n man tans in ‘n ernstige toestand in die hospitaal is. Die persoon, een van die verdagtes, word glo met die aanvalle vanoggend verbind. “Die man was na bewering betrokke by die aanvalle in en naby Genesisstraat en het hoofbeserings opgedoen nadat hy per ongeluk deur sy eie mense raakgekap is,” vertel ‘n betroubare bron.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA,GEORGE HERALD-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'