GEORGE NUUS - Vrye toegang tot elektrisiteit, handskoonmaakmiddels aan behoeftige gemeenskappe en toegang tot watertenke in areas waar geen water beskikbaar is nie.
Dit is van die items op die opposisiepartye se wenslysie wat tans onder bespreking is met waarnemende burgemeester Charlotte Clarke, munisipale bestuurder Trevor Botha en die hoofrisikobeampte, Cheryl Segon.
Raadslede Charlie Williams (ANC), Mercia Draghoender (GOOD), Gert van Niekerk (FF Plus), Khumbulelo Mkhondo (AIC) en Virgill Gericke (PBI) het die vergadering Dinsdagmiddag belê. Die hoofsweep van die raad, Marlene Barnard (DA), het telefonies ingeskakel.
Hul ander versoeke sluit in:
- Geen krag moet vir die volgende 21 dae geblok word nie;
- vullisverwydering en die skoonmaak van vullishope moet onmiddellike aandag geniet;
- die opskerp van toiletgeriewe in informele nedersettings en plakkerskampe om die verspreiding van die virus te stop;
- en gemeenskappe so gou moontlik oor die virus in te lig.
Nog 'n vergadering het gisteroggend plaasgevind om die besprekings voort te sit. Die uitkoms was nie teen druktyd beskikbaar nie.
Van links is Janine Fernoll (gemeenskapsdienste), Khumbulelo Mkhondo (AIC), Tracy du Plooy (kantoor van die munisipale bestuurder), munisipale bestuurder Trevor Botha, Mercia Draghoender (Good), Virgill Gericke (PBI) en Cheryl Segon (hoofrisikobeampte en waarnemende hoofouditbeampte).
Botha het bevestig dat 'n vergadering gister met die hoofswepe van alle partye gehou is, en dat nog 'n vergadering beplan is.
"Gegewe die president se aankondiging van 'n 21-dae algehele inperking vanaf middernag Donderdag [vandag, 26 Maart], is ons versoek aan almal [die politici] om hul samewerking op hierdie tydstip te gee, en nie die geleentheid te gebruik om publisiteit vir hul party te bekom nie."
Gericke het gesê dit is die grondwetlike mandaat van die munisipaliteit om dienste onverhinderd voort te sit en seker te maak dat inwoners veilig is.
"Die koronavirus het 'n ongemaklike realiteit in ons land geword. Die vergadering het ten doel om maatreëls in plek te sit om die mense van ons dorp te beskerm in die krisis. Al die partye teenwoordig het hul bereidwilligheid uitgespreek om hande te vat en die dorp deur die krisis te lei," het hy gesê.
Opposition parties met with senior officials yesterday with a request to address the needs of the poor during the lockdown period. Free access to electricity and water, as well as the removal of all garbage in disadvantaged neighbourhoods, were some of the items on their wish list.
The outcome of a second meeting on the matter was not available before going to print.
'We bring you the latest George, Garden Route news'